Nuus 08:00
BULLETIN 12 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê die besoek van DA-, PA- en ACDP-LP’s ondergrawe solidariteit met Palestina
# Eskom sê die kragstelsel is bestendig
# En rugbynuus, die Stormers se kaptein kan die oorblywende VRK-groepswedstryde misloop
# Die ANC het ’n privaat besoek aan Israel deur parlementslede van die DA, PA en ACDP veroordeel en dit as ‘n skending van Suid-Afrika se standpunt oor menseregteskendings teen Palestyne beskryf. Volgens News24 het die reis, wat nie deur die Parlement goedgekeur is nie, kritiek ontlok omdat dit, volgens die ANC, valse narratiewe oor Israel onderskryf. Die DA en ACDP beweer die reis is in hulle persoonlike hoedanigheid onderneem. Die PA het geweier het om bekend te maak wie die besoek gefinansier het.
# Die Forum for South Africa sê die beweerde verkragting van Cwecwe in Matatiele in die Oos-Kaap, beklemtoon die talle kindermishandelingsake wat nie aangemeld is nie. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê geregtigheid vir Cwecwe kan meer kinders bemagtig om daaroor te praat. Mashilompane sê die forum gee swak ondersoeke, korrupsie en vertragings die skuld vir die mislukkings met uitkomste. Hy sê hul eis strafreghervormings en optrede teen alle betrokke amptenare:
# Eskom sê beurtkrag bly opgeskort en die kragstelsel is steeds bestendig. Daar is voldoende noodreserwes wat strategies gebruik word om aan piektydaanvraag te voldoen. Beplande instandhouding gaan voort teen 14,85-persent van die opwekkingskapasiteit wat 3,8-persent meer is as dieselfde tydperk verlede jaar. Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê sewe-duisend-402 megawatt opwekkingkapasiteit is tans onder beplande instandhouding:
# President Donald Trump van Amerika se spesiale gesant, Steve Witkoff, het gister met president Vladimir Putin in St. Petersburg vergader om ‘n vredesooreenkoms te bespreek. Dit volg terwyl Trump sê Rusland moet begin werk om die oorlog te beëindig. Putin is op staatstelevisie gesien waar hy Witkoff in St. Petersburg se presidensiële biblioteek ontmoet voor die onderhandelinge begin. Die staat se nuusagentskappe berig die gesprekke het meer as vier ure geduur. Die Kremlin sê in ʼn verklaring die onderhandelinge het verskeie aspekte van ʼn vredesooreenkoms in Oekraïne gedek.
# En, Rugby: Die Stormers se kaptein, Neethling Fouché, kan die res van die span se Verenigde Rugbykampioenskaps-groepswedstryde misloop nadat hy gestraf is vir sy onlangse rooikaart teen Ulster. Hy is vir vier wedstryde geskors oor vuilspel. Die tugkomitee het bevind die oortreding dra ‘n straf van ses weke, maar dis verkort weens sy goeie rekord. Fouché het tevergeefs appelleer, maar sy straf kan net met ‘n week verkort word as hy die afrigtings-ingrypingsprogram deurloop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….