Nuus 08:00
BULLETIN 11 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Raymond Parsons sê die verposing op Amerikaanse tariewe is ‘n geleentheid vir Suid-Afrika
# Die Parlement is bekommerd oor Eskom se munisipale skuldkrisis
# En ‘n helikopterongeluk in die Hudsonrivier eis ses
# Die ekonomie-professor aan die Noordwes-universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, sê Suid-Afrika moet die uitstel van 90 dae op Amerikaanse tariewe gebruik om ‘n beter ooreenkoms te onderhandel. Die land staar tariewe van 31-persent in die gesig op belangrike uitvoere na Amerika. Meer as 60 lande sal egter steeds president Donald Trump se oorhoofse invoertarief van tien-persent moet betaal. Raymond sê Suid-Afrika se onderhandeling moet van die standpunt uitgaan dat die Wet op groei en Geleenthede in Afrika nie hernu word nie:
# Die parlementêre gekose komitee oor Landbou, Grondhervorming en Minerale Bronne, het kommer uitgespreek oor Eskom se voortslepende probleme. Dit sluit die styging van munisipale skuld in wat die kragvoorsiener se finansiële volhoubaarheid in gevaarstel. Munisipaliteite skuld Eskom sowat 107-miljard-rand. Die komitee sê hy is ook bekommerd oor voortgesette probleme met bedrog, korrupsie en misdadigheid by die kragvoorsiener, ten spyte van pogings om interne beheer en gevolgebestuur te verbeter. Hy sê Eskom moet meer deursigtig wees en gereeld inligting verskaf oor sy omkeerpogings.
# Die EFF het dit verwelkom dat die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat KwaZulu-NataI se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, van blaam onthef het. Hy is in 2023 beskuldig van magsmisbruik en dat hy ingemeng het by die inhegtenisneming van ʼn senior beampte wat volgens berigte ʼn dwelmkartel by die Westville-maksimumtronk in Durban bedryf het. Die EFF sê hy hou vol die klag was deel van ʼn groter heksejag deur magte in die Polisieministerie wat bedreig gevoel het omdat Mkhwanazi nie onder politieke druk wou swig nie.
# Ses mense insluitend drie kinders is dood nadat ʼn helikopter wat passasiers vervoer in die Hudsonrivier in New York neergestort het. Amptenare sê die helikopter het in die lug opgebreek en onderstebo in die rivier neergestort. Vyf van die passasiers was ʼn gesin van Spanje en die sesde persoon was die vlieënier. New York Stad se polisiekommissaris, Jessica Tisch, sê die Nasionale Vervoerveiligheidsraad sal die ondersoek na die ongeluk lei:
# Gholf: Perrine Delacour van Frankryk en Aline Krauter van Duitsland het sewe onder 65 aangeteken en loop saam voor na die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse Vroue-Ope in die Wes-Kaap. Hulle is een hou voor die Namibiër Bonita Bredenhann, Lucie Malchirand van Frankryk en Sara Kouskova van die Tsjeggiese Republiek. Hierdie is die laaste toernooi in vanjaar se Sonskyn Vrouetoer. Krauter sê sy is tevrede met haar vertoning in die aanvangsronde:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-35-sent teen die dollar, 21-rand-42-sent teen die euro en 25-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-563-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-216-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….