Nuus 08:00
BULLETIN 9 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die WNNR is ‘n Suid-Afrikaanse suksesverhaal
# Drie groot regsfirmas sluit aan by die stryd teen die regering se bemagtigingskodes
# En Donald Trump straf China met 104-persent tariewe
# President Cyril Ramaphosa sê die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad se werk is in ooreenstemming met die regering se prioriteit van inklusiewe groei en werkskepping. Hy het gister die WNNR-kampus, ‘n instelling van die Departement van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, in Pretoria besoek. Die WNNR vier 80 jaar van vernuwing, vordering en vooruitgang. Ramaphosa sê die WNNR moet op die voorpunt wees van ontwikkeling, en oplossings bied wat die mensdom ophef:
# Drie van Suid-Afrika se groot regsfirmas het by Norton Rose Fulbright se hofuitdaging teen die regering se kodes vir swart ekonomiese bemagtiging in die regssektor aangesluit. Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het die sektorkodes verlede jaar in September uitgegee. Daarvolgens moet 50-persent swart regspraktisyns in die volgende vyf jaar eienaarskap, stemreg en posisies in uitvoerende bestuur hê. Die firmas Bowmen, Webber Wentzel, en Werksmans voer aan die kodes kan veroorsaak dat hulle kontrakte van miljarde met groot banke en die staatsektor verloor.
# Die Gautengse portefeuljekomitee oor Gemeenskapsveiligheid het ‘n formele verslag van die provinsiale Polisiekommissaris, Tommy Mthombeni aangevra oor die status en vordering met ondersoeke na taxi-verwante moorde. Dit volg na drie lede van die Witwatersrandse Afrika-taxi-vereniging Maandagoggend in Soweto doodgeskiet is. Slegs in Maart is elf taxi-operateurs in Katlehong buite Germiston in Johannesburg vermoor. Die komiteevoorsitter, Bandile Masuku, sê die polisie moet hulle intelligensiegeleide operasies verskerp en vinnig arrestasies doen om die misdadige elemente uit te roei wat die geweld aanwakker.
# Die Withuis het bevestig dat Amerika 104-persent tariewe gaan hef op invoere uit China. Dit begin vandag nadat Beijing geweier het om sy wederkerige tariewe terug te trek. Amerika gaan ʼn bykomende 50-persent voeg by tariewe teen China plus ʼn aanvanklike 20-persent wat by ʼn 34-persent wederkerige tarief gevoeg word. China sê hy weier om deur Amerika afgepers te word. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê Trump het sy handelspan opdrag gegee om gepaste ooreenkomste aan te gaan met lande wat wil onderhandel:
# Sokker: Banyana Banyana was een doel agter, maar het ingehaal en Malawi met 2-1 geklop in hul tweede vriendskaplike wedstryd by die Lucas Moripe-stadion in Pretoria. Suid-Afrika het die Scorchers Saterdag met 3-0 verslaan. Hildah Magaia en Amogelang Motau se doele het Desiree Ellis se span se sege verseker. Banyana Banyana berei voor vir die Vroue-Afrikanasiesbeker wat in Julie in Marokko plaasvind. Ellis sê hulle moet voor WAFCON nog op sekere gebiede verbeter:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-71-sent teen die dollar, 21-rand-73-sent teen die euro en 25-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-664-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-5-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….