Nuus 08:00
BULLETIN 8 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF lê alternatiewe inkomstevoorstelle aan die Parlement voor
# Chris Hani se weduwee wil steeds ‘n geregtelike doodsondersoek na sy sluipmoord hê
# En rugby: Die Varsitybeker-eindstryd is ’n Kaapse affêre
# Die EFF het voorstelle vir alternatiewe inkomste-verhaling by die Nasionale Vergadering ingedien. Hulle is gekant teen die BTW-verhoging in die 2025 fiskale raamwerk. Die begroting wat verlede week in die Parlement aanvaar is, sluit ‘n BTW-verhoging van 0,5-persent vir die volgende twee boekjare in. Die EFF-voorstelle sluit onder meer in aanpassings vir inflasie in belastingkerwe vir persoonlike inkomstebelasting, verhoogde korporatiewe inkomstebelasting en meer fondse vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om die belastinggaping van 800-miljard-rand te ontsluit.
# Die anti-apartheidsaktivis, Chris Hani se weduwee, Limpho Hani, het haar oproep herhaal dat president Cyril Ramaphosa ‘n geregtelike ondersoek moet instel na sy dood. In die aanloop tot die 32-jaar herdenkingsgeleentheid in die Oos-Kaap later die week het die struggle-held se weduwee en lede van die SAKP Maandag ‘n kransleggingseremonie by die South Park-begraafplaas in Boksburg gehou. Hani het weer die land se regstelsel veroordeel vir die toestaan van parool aan Janusz Waluś verlede jaar:
# Die Gautengse Onderwysdepartement sê hy bly verbind tot ʼn benadering van geen verdraagsaamheid nie, wat seksuele wangedragsake van sy werknemers betref. Dit volg na onthullings dat nege uit 12 onderwysers met ʼn misdaadrekord weens seksuele oortredings steeds by skole in die provinsie ontplooi is, ten spyte van ʼn keuringsproses. LUR Matome Chiloane het aan Newzroom Afrika gesê die departement se indiensneming van individue is onderhewig aan streng regsprosesse en -prosedures:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy werk saam met Amerika se spesiale gesant, Steve Witkoff, aan ʼn ooreenkoms om nog gyselaars vry te laat wat in Gaza deur Hamas gevange gehou word. Netanyahu het gister met president Donald Trump by die Withuis vergader. Van die 251 gyselaars wat Hamas tydens die 7 Oktober-aanval ontvoer het, is 58 steeds in aanhouding in Gaza, insluitend 34 wat volgens die Israelse weermag dood is. Netanyahu sê die gyselaars leef in angs en hulle wil almal bevry:
# Rugby: Die Universiteit Stellenbosch se Maties en Universiteit van Kaapstad se Ikeys meet volgende Maandag in Stellenbosch kragte in die Varsitybeker-eindstryd. Maties is boaan die punteleer, maar moes hard baklei vir hul 19-7-oorwinning oor die verdedigende kampioene, die Vrystaatse Shimlas, in hulle halfeindwedstryd op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Ikeys is deur na hul vierde agtereenvolgende eindstryd nadat hulle die Universiteit van Pretoria se Tuks met vyf drieë teenoor vier verslaan het vir ʼn 48-35-oorwinning.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-48-sent teen die dollar, 21-rand-37-sent teen die euro en 24-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-114-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-994-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….