Nuus 08:00
BULLETIN 3 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie sê die DA kan nie deel wees van ‘n regering wie se begroting hy nie steun nie
# ActionSA sê hy is daartoe verbind om burgers teen onregverdige belastingverhogings te beskerm
# En wêreldleiers kritiseer Trump se ingrypende nuwe wêreldwye tariewe
# Die Presidensie sê president Cyril Ramaphosa gaan sy tyd neem om na te dink oor die pad vorentoe met die DA as regeringsvennoot nadat die party teen die fiskale begrotingsraamwerk gestem het. Die begroting is aanvaar nadat 194 parlementslede daarvoor en 182 daarteen gestem het. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê dit gaan vir die DA moeilik wees om deel te wees van ‘n regering wie se begroting hy teenstaan:
ActionSA verwelkom intussen die goedkeuring van die begroting se fiskale raamwerk en sê hy is verbind tot die beskerming van Suid-Afrikaners teen onregverdige en onnodige belastingverhogings. Behalwe vir die DA en die Vryheidsfront Plus het al die ander partye in die regering van nasionale eenheid die begroting gesteun wat ‘n 0,5-persent verhoging in BTW voorstel. Athol Trollip van ActionSA sê hulle het verkies om veranderings aan die fiskale raamwerk voor te stel eerder as om dit te wysig, want ‘n wysiging sou beteken die begroting moet hersaamgestel word:
# Een van die beweerde slagoffers van die Nigeriese televangelis Timothy Omotoso, Cheryl Zondi, het haar teleurstelling uitgespreek oor die vryspreking van Omotoso en sy twee medebeskuldigdes op 32 aanklagtes. Zondi, wat in die verkragting- en mensehandelsaak getuig het, het gepraat oor die misbruik wat sy tydens internasionale kerkreise deurgegaan het. Sy sê die uitspraak ontken geregtigheid, en die kommer uitgespreek dat dit misbruikers mag aanmoedig en die situasie vir toekomstige slagoffers kan vererger:
# Wêreldleiers het met woede gereageer op Donald Trump se ingrypende nuwe wêreldwye tariewe. Hy het ‘n basiese tien-persent heffing op alle lande ingestel en vir 60 lande wat as die ergste oortreders geag word, is dit selfs hoër, insluitend China, Suid-Afrika en Thailand. Die Chinese minister van Buitelandse Sake, Wang Yi, sê hulle gaan met ‘n teenaanval kom as Amerika voortgaan met sy afpersing. Die Australiese eerste minister, Anthony Albanese, het die nuwe tariewe as ongevraag beskryf, terwyl sy Italiaanse eweknie Giorgia Meloni, sê dit kan tot ‘n handelsoorlog lei.
# Krieket: Die snelbouler Mohammad Siraj en kolwer Jos Buttler het geskitter in die Gujarat Titans se oorwinning met agt paaltjies teen die Royal Challengers Bengaluru in die Indiese Premierliga. Liam Livingstone se 54 het RCB gehelp om 169 vir agt op die telbord te plaas, met Siraj wat drie paaltjies platgetrek het. In antwoord behaal Buttler ʼn onoorwonne 73 van 39 balle en die Titans bereik die doelwit met 13 balle oor. Die twee spanne is nou gesamentlik derde op die punteleer met twee oorwinnings en een nederlaag elk uit hul drie wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-600-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-147-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….