Nuus 08:00
BULLETIN 1 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Simelane ontken sy het 700-duisend-rand van ‘n Eskom-kontrakteur ontvang
# Marine Le Pen sê haar skuldigbevinding is ‘n ontkenning van demokrasie
# En rugby: Shimlas, Tuks, Maties en Ikeys is deur na die Varsitybeker-halfeindstryd
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, ontken bewerings dat sy deel was van twyfelagtige aktiwiteite tydens haar termyn as werknemer van Vitrovian, ‘n Eskom-kontrakteur. Volgens News24 is sy na bewering 700-duisend-rand betaal om gemeenskapskakelingdienste aan Vitrovian te verskaf om betogings by die Kusile-kragaanleg te voorkom. Die maatskappy het volgens berigte kostes buitensporig verhoog en Eskom laat betaal vir werk wat deur spookwerknemers gedoen is. Simelane se woordvoerder, Tsekiso Machile, sê die bewerings is ʼn desperate poging om die minister se naam vir sensasie by omstredenheid te betrek:
# Die ANC-jeugliga veroordeel wat hy beskryf as misleidende inligting oor ʼn onbetaalde rekening. Volgens berigte het ʼn afvaardiging onder leiding van die jeugliga-president, Collen Malatji, versuim om ʼn rekening van meer as 800-duisend-rand te betaal ná ʼn partyvoorlegging wat afgesluit is met ʼn feestelike onthaal by die Little Tuscany-boetiekhotel in Sandton, Johannesburg. Die jeugliga sê die betrokke rekening is nie vir ʼn partytjie nie, maar vir drie afsonderlike vergaderings wat by die hotel gehou is. Hy sê hy sal seker maak die rekening word vereffen.
# Die GOOD Party sê die Stad Kaapstad het ‘n nuwe skoonmaaktarief ingestel, afsonderlik van inwoners se eiendomsbelasting, en wat onaanvaarbaar is. Statistieke Suid-Afrika se indeks vir residensiële eiendomme vir 2023 toon dat die prys van residensiële eiendomme in die metro sedert 2010 met 141-persent gestyg het. Anton Louw van GOOD sê die nuwe skoonmaaktarief is van eiendomsbelasting afgekamp, maar daar was geen verlaging in inwoners se eiendomsbelasting nie:
# Die verregse Franse leier, Marine Le Pen wat skuldig bevind is aan die verduistering van Europese fondse, sê haar skuldigbevinding ontken demokrasie. ʼn Paryse hof het haar verbied om vir vyf jaar ʼn amp te beklee, sy is tot vier jaar tronkstraf gevonnis waarvan twee jaar opgeskort is, en sy is beboet. Le Pen het aan die Franse TV-kanaal, TF1, gesê die uitspraak skend die oppergesag van die reg en sê sy gaan appelleer. Sy beloof om vol te hou met wat sy noem die nou paadjie na die presidentskap in 2027.
# Rugby: Die verdedigende kampioene van die Vrystaatse universiteit, die Shimlas, is deur na die Varsitybeker-halfeindronde ná hul 48-35-sege teen die Tuks van Pretoria wat reeds gekwalifiseer het. Die Universiteit Stellenbosch se Maties het die Wits-universiteit met 49-7 verpletter om ʼn halfeindwedstryd op hul tuisveld te verseker. Die Universiteit van Kaapstad se Ikeys het die Universiteit van Johannesburg met 49-31 afgeransel om die uitspeelronde te haal. Die Arende van Noordwes-universiteit spog met ʼn oortuigende 117-19-oorwinning oor die Sentrale Universiteit vir Tegnologie se Ixias, maar kon steeds nie die halfeindronde bereik nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-202-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-144 dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….