Nuus 08:00
BULLETIN 31 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê president Ramaphosa moet die ondersoek na die Nasionale Vaardigheidsfonds uitbrei
# Motorsport: Francesco Bagnaia wen die Amerikaanse MotoGP
# En Richard Chamberlain is op 90-jarige ouderdom oorlede
# Die DA sê hy is teleurgesteld dat president Cyril Ramaphosa versuim om ‘n volskaalse ondersoek na die Nasionale Vaardigheidsfonds in te stel. Die Spesiale Ondersoekeenheid het toestemming om bewerings van korrupsie en wanadministrasie by die vaardigheidsfonds te ondersoek. Dit sal fokus op verkryging en kontrakte vir die instelling van vaardigheidsontwikkelings-programme en opleidingsprojekte. Desiree van der Walt van die DA sê dis swak dat die SOE-ondersoek net sekere van die fonds se projekte ondersoek:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie het ernstige kommer uitgespreek oor die toestand van baie polisiekantore in die land. Die komitee het verlede week oorsigbesoeke in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal gebring. Van die kwessies waarop die komiteelede afgekom het, is haglike werkstoestande, selle wat nie gebruik kan word nie en personeeltekorte. Die komitee doen ʼn beroep op die SAPD-bestuur en die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur om beter werkstoestande te skep wat beamptes se moraal sal verhoog.
# Die MK-party in Gauteng sê hy gaan “kameraad” Bonginkosi Khanyile se 14-uur “Waar is my Stem?” -optog vandag van Pretoria na die Konstitusionele Hof ondersteun. Hy wil ‘n memorandum indien oor die 2024-verkiesingsuitslae. MK se woordvoerder, Abel Tau beweer daar is bedrog gepleeg met hulle stemme en die verkiesingsuitslag is vervals. Hy sê die regbank en die howe, een van die drie afdelings van die staat, het ‘n rol in die verdediging, handhawing en ondersteuning van demokrasie:
# Motorsport: Francesco Bagnaia van Ducati het in sy eerste oorwinning van die seisoen, die MotoGP Grand Prix van die Amerikas gewen. Die Italianer het die voortou geneem nadat die sesmalige wêreldkampioen, Marc Márquez, in die negende rondte ʼn ongeluk gemaak en onttrek het weens groot skade aan sy motorfiets. Álex Márquez van Gresini Racing was tweede en is nou boaan die jaerskampioenskap, terwyl Fabio Di Giannantonio van VR46 Racing derde was. Bagnaia erken dat sy oorwinning deels aan geluk toegeskryf kan word:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-752-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-108-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-31-sent per vat.
# En ten slotte: Die driemalige Golden Globe-wenner, Richard Chamberlain wat in die 1960’s bekendheid verwerf het in die mediese reeks, Dr Kildare, is op 90-jarige ouderdom in Hawaii dood ná komplikasies na ʼn beroerte. Chamberlain het die titel “koning van mini-reekse” verdien vir sy hoofrolle in Shogun en The Thorn Birds. Hy het ook geringe sukses behaal as opnamekunstenaar en sy stem-talent in die 1993-weergawe van die Broadway-treffer, My Fair Lady, gebruik. Chamberlain se lewensmaat, Martin Rabbett, het hom as ʼn wonderlike en liefdevolle siel beskryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….