Nuus 08:00
BULLETIN 27 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die lied Kill the Boer sal altyd haatspraak wees
# Meer as 700 verdagtes word in hegtenis geneem in ‘n landwye operasie
# En Donald Trump kondig ‘n tarief van 25-persent aan op alle ingevoerde voertuie
# Die Vryheidsfront Plus sê hy veroordeel die sing van die struggle-lied, Kill the Boer, en deel die publiek se frustrasie met die Menseregtekommissie en regering se stilswye oor die saak. Die Gelykheidshof het in 2022 beslis die teenapartheid-lied kan nie as haatspraak beskou word nie en die Appèlhof het dit in 2024 bevestig. Die VF Plus-leier, Corné Mulder, sê ‘n lied soos dié het geen plek in Suid-Afrika nie:
# Die afgelope twee weke se landwye Vala Umgodi-operasies het tot die inhegtenisneming van 792 verdagtes gelei. Die misdade sluit in onwettige mynbedrywighede, moord, poging tot moord en besit van plofstof en vermoedelik gesteelde goedere. ʼn Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, sê sedert sy inwerkingstelling in Desember 2023, is meer as 20-duisend verdagtes tydens Operasie Vala Umgodi vasgetrek:
# BOSA sal vandag ‘n betoging lei voor die Gallagher-konvensiesentrum in Midrand, Gauteng, wanneer president Cyril Ramaphosa ‘n toespraak lewer by die Nasionale Water- en Sanitasie-Indaba. Die party eis dringende optrede met die waterkrisis. BOSA se raadsvoorsitter, Stevens Mokgalapa, eis oplossings en nie ‘n beraad nie. Die betoging volg nadat BOSA regstappe gedoen het om waterstorting in hospitale en skole aan te pak en breër bestuursmislukkings wat tot die ineenstorting van die land se waterinfrastruktuur gelei het.
# President Donald Trump het ʼn nuwe 25-persent-heffing aangekondig op alle ingevoerde motors en motoronderdele. Die heffings wat volgende Donderdag in werking tree, is gemik op die uitbreiding van Amerika se voertuigvervaardiging. Die land het verlede jaar sowat agt-miljoen voertuie ingevoer met Mexiko as hoof- buitelandse verskaffer, gevolg deur Suid-Korea, Japan, Kanada en Duitsland. Trump sê die maatreël sal enorme groei in die motorbedryf verseker en tot werksgeleenthede en beleggings in Amerika lei:
# Krieket: Quinton de Kock se onoorwonne 97 het die verdedigende kampioene, Kolkata Knight Riders, na ‘n agt paaltjie-oorwinning teen die Rajasthan Royals in Guwahati gelei. Die draaiboulers Moeen Ali en Varun Chakravarthy het saamgewerk om Rajasthan tot 151 vir nege te beperk. In antwoord het De Kock en die plaasvervanger, Angkrish Raghuvanshi, ʼn onoorwonne vennootskap van 83 lopies van 44 balle behaal en die KKR het die teiken bereik met 15 balle oor. Vandag takel die Sunrisers Hyderabad en Lucknow Super Giants mekaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-591-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-32-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….