Nuus 08:00
BULLETIN 26 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motsoaledi onttrek die regulasies wat die verkoop van dagga en hennepprodukte verbied
# Die EFF is bekommerd oor ministers wat nie vrae in die Parlement antwoord nie
# En die VN is besig om sy teenwoordigheid in Gaza te verklein na die hervatting van Israelse lugaanvalle
# Die Gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, gaan regulasies oor die verbod op verkope van dagga- en hennep-produkte wat in die Staatskoerant gepubliseer is, ophef om ‘n openbare deelnameproses toe te laat. Die regulasies wat vroeër die maand gepubliseer is en groot openbare teenkanting ontlok het, verbied enige voedsel met bestanddele wat dagga, hennepsaad-olie of hennepsaad-meel bevat. President Cyril Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president ondersteun beraadslaging met belanghebbers en openbare deelname wat gesondheidsrisiko’s en die negatiewe uitwerking van voedselprodukte wat dagga en hennep bevat, sal beperk:
# Die EFF sê hy is bekommerd oor die Parlement se jongste verslag oor uitstaande antwoorde op ministers se vrae. Volgens die verslag is 783 vrae ingedien wat verlede Donderdag afgehandel moes wees, maar 222 vrae is nie beantwoord nie. Gedurende die tydperk het die minister van Polisie, Senzo Mchunu, 47 van 74 vrae nie beantwoord nie terwyl die Landbouminister, John Steenhuisen, slegs ses van sy 17 vrae geantwoord het. Die EFF sê dit blyk sommige ministers het geen agting vir die Parlement se oorsigrol nie.
# ActionSA in Gauteng waarsku lede van die munisipale komitee oor Openbare Rekeninge om alle vorms van intimidasie en viktimisasie by die polisie aan te meld. Dit het aan die lig gekom dat openbare verteenwoordigers wat met oorsig van openbare finansies gemoeid is, dikwels geïntimideer word. John Moodey van ActionSA sê tydens ʼn vergadering is die werklikhede onthul wat tot mislukkings, veral van plaaslike regerings lei, asook die probleme wat komitees beleef omdat hulle aanbevelings grootliks geïgnoreer word:
# Die Verenigde Nasies sê hy verminder sy internasionale personeel in Gaza nadat Israel sy dodelike lugaanvalle hervat het. Sowat ʼn derde van die ongeveer 100 internasionale personeellede in Gaza sal tydelik hervestig word. Israelse aanvalle het verlede week ʼn VN-kamp in Deir Al Balah getref waarin ʼn Bulgaarse werker dood en ses ander beseer is. ʼn VN-woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê geen humanitêre hulp word sedert vroeër die maand in die Gaza-strook toegelaat nie:
# Sokker: Bafana Bafana het Benin met 2-0 geklop in ʼn Wêreldbeker-kwalifiserende wedstryd in Abidjan, Ivoorkus, om steeds voor te loop in Groep C. Lyle Foster en Jayden Adams se doele in die tweede helfte was genoeg om die besoekers se oorwinning te verseker. Suid-Afrika met 13 punte na ses wedstryde, loop nou met vyf punte voor in Groep C, terwyl Rwanda en Benin albei agt punte het. Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê sy spelers het bewys hulle kan onder moeilike omstandighede sukses behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-71-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-279-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-20-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….