Nuus 08:00
BULLETIN 25 Maart 2025
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika en die DRK wil hul verdedigingsverhoudinge versterk
# Sitrusuitvoere toon ‘n bestendige groei met ‘n gebalanseerde aanbod
# En rugby: Oorwinnings vir Tuks, Ikeys, die Arende en die Ixsias in die voorlaaste groepronde van die Varsitybeker
# Die minister van Verdediging en Militêre veterane, Angie Motshekga, ontvang hierdie week haar DRK-ampsgenoot, Kabombo Muadiamvita. Die besoek se doel is om bilaterale betrekkinge tussen die twee nasies te bevorder en te versterk. Dit volg ná toenemende konflik in die Demokratiese Republiek die Kongo. Minister Motshekga se woordvoerder, Onicca Kwakwa, sê onderhandelings sal fokus op belangrike gebiede soos samewerking op verdedigingsvlak en om strategiese verdedingingsvermoëns te ondersteun:
# Die Sitruskwekersvereniging van Suid-Afrika berig dat sitrusuitvoere in ooreenstemming met die vyfjaar-gemiddeld, bestendig bly. Lemoenuitvoere word geskat op 32,9-miljoen kartonne, ‘n afname van vyf-persent teenoor 2024, terwyl nawel- en valencia-lemoene na verwagting met vyf- en ses-persent onderskeidelik sal styg. Pomelo-uitvoere sal waarskynlik ook met ses-persent toeneem. Die vereniging sê die bedryf fokus daarop om logistieke uitdagings en handelbeperkings van die Europese Unie op te los ten einde sy uitvoerdoelwit vir 2032 te bereik.
# Oos-Kaapse polisie het ‘n soektog begin ná die ontvoering Maandagoggend van ʼn onderwyser van die Happydale Special School in Algoapark, Nelson Mandelabaai. ʼn Polisiewoordvoerder, kaptein Andre Beetge, sê drie mans het die skool se parkeerterrein binnegery en die 45-jarige onderwyseres wat pas haar voertuig parkeer het, gegryp. Hy sê geen losprys is nog geëis nie:
# Amerika se Nasionale Sekerheidsraad het ʼn ondersoek begin na ʼn voorval waar ʼn joernalis glo per ongeluk by ʼn groepsgesprek ingesluit is waar besonderhede oor militêre aanvalle op Jemen bespreek is. Die Atlantic se hoofredakteur, Jeffrey Goldberg, het bevestig hy het ʼn uitnodiging ontvang op die geënkripteerde boodskaptoepassing, Signal, van ʼn rekening met die naam White House National Security Adviser Michael Waltz. Die minister van Verdediging, Pete Hegseth, ontken dat enige iemand in Trump se kabinet oorlogsplanne per teksboodskap stuur. Goldberg het aan CNN gesê Hegseth lieg:
# Rugby: Die Universiteit van Pretoria se Tuks is boaan die Varsitybeker-punteleer na hul 29-19-sege oor die Maties van Stellenbosch, terwyl daar een ronde oorbly voor die halfeindronde. Die Universiteit van Kaapstad se Ikeys het die Shimlas van die Vrystaat verras met ʼn oorwinning van 40-26. Die Arende van die Noordwes-universiteit het hul hoop om die halfeindronde te haal, lewend gehou met ʼn 52-7-sege oor die Universiteit van Johannesburg. Die Sentrale Universiteit van Tegnologie se Ixsias het ná drie agtereenvolgende nederlae die Wits-universiteit se span met 34-28 geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-721-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-14-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….