Nuus 08:00
BULLETIN 22 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika hou 47-miljard-rand se klimaatsfinansiering aan Suid-Afrika terug
# Atletiek: Die Suid-Afrikaanse naelloper Simbine verower brons in die 60-meter op die wêreld-binnenshuise kampioenskap
# En die gewese wêreldkampioen-swaargewigbokser George Foreman sterf op 76
# Amerika het ‘n klimaatsfinansieringspakket van 47-miljard-rand aan Suid-Afrika teruggehou, wat kommer wek dat dit heeltemal stopgesit kan word. Amerikaanse beamptes het op ‘n onlangse vergadering die goedkeuring voorkom van ‘n uitbetaling van nege-miljard-rand, wat verdere befondsing kon ontsluit het. Die stap dra by tot die spanning tussen die lande, met vorige Amerikaanse optrede wat insluit die staking van bydraes tot die presidensiële noodplan vir Vigsverligting en onttrekking uit globale klimaatsprogramme. Nog ‘n poging om fondse te kry kan in Junie aangewend word op vergaderings van die Klimaatsbeleggingsfonds.
Die voormalige minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, is intussen bekommerd oor Suid-Afrika se posisie te midde van globale magsverskuiwings. Sy het by die Sol Plaatje-universiteit in Kimberley in die Noord-Kaap gemaan die land is vasgevang in Amerika se stryd vir wêreld-oorheersing. Pandor beklemtoon ook die behoefte aan ‘n meer inklusiewe en doeltreffende globale staatsbestuurstelsel om die verskuiwende internasionale dinamiek te hanteer:
# AfriForum verwelkom die terugtrekking van ‘n Noord-Kaapse polisie-opdrag wat vereis dat amptelike dokumente slegs in Engels mag wees. Die opdrag is uitgereik deur die adjunk-provinsiale kommissaris, Luntu Ngubelanga, maar het hewige teenkanting van AfriForum, Solidariteit en die Kaapse Forum ontvang. Klagtes aan die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en regstappe is oorweeg. Alana Bailey van AfriForum noem dit ‘n oorwinning vir taalregte:
# Atletiek: Suid-Afrika se Olimpiese silwermedaljewenner, Akani Simbine, het die bronsmedalje ingepalm in die 60-meter vir mans op die wêreld-binnenshuise kampioenskap in Nanjing, China. Hy het in die halfeindronde sy persoonlike beste tyd van 6,53-sekondes behaal en in die eindstryd derde geëindig in 6,54, na Jeremiah Azu van Brittanje en die Australiër Lachlan Kennedy. Dit is Suid-Afrika se eerste binnenshuise medalje sedert 2018. Simbine was deel van die land se vier-maal-100-meter aflosspan wat verlede jaar silwer verower het op die Olimpiese Spele in Parys.
# En ten slotte: Die tweemalige wêreldswaargewigbokskampioen George Foreman is in die ouderdom van 76 oorlede. Sy familie het die nuus op Instagram bekendgemaak. Die Amerikaner het in 1974 ‘n beroemde botsing teen sy landgenoot Muhammed Ali verloor in ‘n wêreldtitelgeveg in Kinshasa in wat nou die Demokratiese Republiek die Kongo is en bekendgestaan het as die “Rumble in the Jungle”. Hy het 76 van sy 81 beroepsgevegte gewen. Foreman het later wêreldwyd bekend geword vir sy gewilde reeks elektriese braaiers. Hy was vyf keer getroud en het twaalf kinders.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….