Nuus 08:00
BULLETIN 17 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Al Jama-ah sê Ebrahim Rasool se uitsetting is ‘n growwe gebrek aan respek vir diplomasie
# FlySafair en LIFT loop deur onder ‘n wêreldwye stelselkwessie
# En Benjamin Netanyahu wil die hoof van Israel se interne sekerheidsheidsdiens afdank
# Al Jama-ah het Amerika se uitsetting van Suid-Afrika se ambassadeur, Ebrahim Rasool, veroordeel en noem dit onregverdig. Rasool het president Donald Trump in ‘n aanlyn lesing van heerssugtigheid beskuldig en dat hy wit slagofferskap probeer beskerm. Die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, beskryf Rasool as ʼn rasgedrewe politikus en het hom persona non grata verklaar. Al Jama-ah se leier, Ganief Hendricks, sê die Trump-administrasie respekteer nie diplomasie nie:
# Die Suid-Afrikaanse Lughawemaatskappy sê ʼn wêreldwye probleem met stelsels het FlySafair en LIFT oor die naweek geraak. Dit het passasiers van dié twee lugrederye langer as gewoonlik geneem om in te boek en daar was lang toue by aanmeldingstoonbanke. FlySafair sê hy het steunprosesse ingestel en 98-persent vlugte kon betyds vertrek. Teen Sondagaand was die programmatuur by die Kaapstad Internasionale Lughawe weer reg en by OR Tambo en King Shaka Internasionale Lughawens was herstelwerk aan die gang.
# Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat het ʼn ondersoek begin na KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Hy word beskuldig van magsmisbruik en dat hy inmeng by die inhegtenisneming van ʼn senior amptenaar van Korrektiewe Dienste wat na bewering ʼn dwelmkartel by die Westville-maksimumgevangenis in Durban bedryf. OPOD-woordvoerder Lizzy Suping, sê hulle het Mkhwanazi versoek om teen Woensdag ʼn beëdigde verklaring in te dien:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, wil die hoof van die Shin Bet-sekerheidsdiens, Ronen Bar, verwyder en sê dis nodig om die land se oorlogsdoelwitte in Gaza te bereik. Shin Bet is Israel se plaaslike intelligensie-agentskap. Die eerste minister het die agentskap dikwels gekritiseer en die blaam vir sekerheidsbreuke wat Hamas se aanval op 7 Oktober 2023 moontlik gemaak het, op sy leiers geplaas. Meer as een-duisend-200 mense is in die aanval dood. Netanyahu sê sy wantroue in Bar het tot sy besluit gelei.
# Motorsport: Die sesmalige MotoGP-wêreldkampioen, Marc Marquez, het die Argentynse Grand Prix gewen en sy perfekte begin van die seisoen voortgesit. Die 32-jarige Spanjaard het voor sy broer, Alex Marquez, en Franco Morbidelli klaargemaak om die 90ste sege van sy loopbaan te behaal. Die Suid-Afrikaner, Brad Binder van Red Bull KTM, het sewende geëindig. Marquez sê hy is beïndruk met sy broer wat elke tree van die wedren by hom kon bly:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-466-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-986-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-620-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….