Nuus 08:00
BULLETIN 15 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika verklaar Suid-Afrika se ambassadeur persona non grata in ‘n opmerking op sosiale media
# Die Posbank versoek SASSA-kliënte met goue kaarte om voor die sperdatum oor te skakel
# En sokker: Liverpool verloor Alexander-Arnold weens ‘n besering voor die Ligabeker-eindstryd
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het Ebrahim Rasool, Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA, tot persona non grata verklaar. Rubio het op die sosiale mediaplatform X gesê Rasool is ‘n ras-uitlokkende politikus wat Amerika en president Donald Trump haat. Rubio se kommentaar volg op nuusberigte in Washington oor ‘n lesing wat Rasool gister gegee het voor ‘n Suid-Afrikaanse dinksentrum, waarin hy beweer het Trump lei ‘n globale wit-heerssugtige beweging. Suid-Afrika se Departement van Buitelandse Betrekkinge het in reaksie gesê hulle hanteer die kwessie deur diplomatieke kanale.
# Die Posbank het sy oproep aan SASSA-kliënte met goue kaarte herhaal om voor 20 Maart oor te skakel na die swart kaart. Die Posbank se uitvoerende hoof, Nikki Mbengashe, sê kliënte wat nie voor die sperdatum oorskakel nie, sal steeds toegang tot hul fondse kry, maar sal hul naaste Poskantoor moet besoek om hulle geld te onttrek. Sy sê die oorgang het ten doel om betaling-sekerheid vir begunstigdes van die toelaag te verbeter:
# Die Mineraleraad van Suid-Afrika sê indien die volle potensiaal van die mynbousektor ontsluit word, kan dit help om verdere belastingverhogings te voorkom. Hulle voer aan as die mynbedryf uitgebrei word sal dit ‘n hupstoot vir die ekonomie wees en inkomste vir die regering genereer, wat op sy beurt die behoefte aan bykomende belasting op ondernemings en burgers sal verminder. Allan Seccombe van die raad vra die regering om ‘n bestendige mynboubeleid, verbeterde infrastruktuur en beter elektrisiteitsvoorsiening te verskaf om groei te bevorder.
# Die Stad Kaapstad versoek inwoners om slaggate aan te meld as deel van sy veldtog om dit voor die winter reg te maak. Meer as een-duisend-400 slaggate word maandeliks aangemeld en die stad poog om soveel moontlik te herstel voor swaar reën verdere skade aanrig. Die metro waarsku gebarste pype beskadig ook paaie, maar gee die versekering herstelwerk sal vinnig gebeur. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Vervoer, Rob Quintas, sê as dit vroeg aangemeld word is herstelwerk vinniger, wat padveiligheid verbeter:
# En sokker: Trent Alexander-Arnold sal môre Liverpool se Ligabeker-eindstryd teen Newcastle misloop weens ‘n enkelbesering wat die verdediger ‘n lang tyd op die kantlyn kan hou. Hy is beseer in verlede Dinsdag se strafskop-nederlaag teen Paris St-Germain in die Kampioeneliga se laaste 16. Die 26-jarige se afwesigheid is ‘n groot terugslag vir Liverpool se hoofafrigter, Arne Slot, wat nou sonder ‘n erkende verdediger is vir die kragmeting met Newcastle op Wembley. Conor Bradley en Joe Gomez, wat gewoonlik in Alexander-Arnold se plek sou speel, herstel nog albei van beserings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….