Nuus 08:00
BULLETIN 12 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu wil ‘n dapper, progressiewe en mens-gesentreerde begroting hê
# Die Batebeslagleggingseenheid lê beslag op die bates van ‘n vermeende kinderpornografie-paartjie
# En Oekraïne stem in tot ‘n voorstel vir ‘n 30-dae skietstilstand
# Cosatu sê hy sal vandag deur talle betogings toon dat hy ‘n BTW-verhoging en besnoeiingsmaatreëls in die begroting verwerp. Die betogings in die Wes-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo en die Vrystaat vind plaas terwyl die minister van Finansies, Enoch Godongwana, vanmiddag sy begrotingsrede in die Parlement lewer. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê hulle hoop onderhandelings nadat die begroting verlede maand uitgestel is, lei tot ʼn dapper, progressiewe en mens-gesentreerde begroting:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid het beslag gelê op eiendom van Darryn Wilken en sy vriendin, Tiona Moodley. Hulle word beskuldig dat hulle ʼn kinderpornografie-verspreidingsnetwerk bedryf. Die paartjie wat in Januarie vasgetrek is, word beskuldig dat hulle materiaal van kinders wat seksueel mishandel word vervaardig en versprei, asook van dwelmbesit en geldwassery. Die NVG-woordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê hierdie saak word plaaslik en in die buiteland ondersoek om kinders se regte te beskerm:
# Die ANC-koukus in die Stad Ekurhuleni verwelkom die raad se optrede teen die bewerings van wangedrag en bedrieglike aktiwiteit in die speaker se kantoor. Die EFF-speaker, Nthabiseng Tshivhenga, word beskuldig dat hy baat by gunslone van diensverskaffers in ruil vir regeringskontrakte. Pelisa Nkunjana van die ANC sê ʼn ad hoc-komitee is saamgestel om die bewerings teen die speaker deeglik en onpartydig te ondersoek. Sy sê hulle bly verbind tot skoon regering, deursigtigheid en aanspreeklikheid.
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê sy land is gereed om ʼn onmiddellike skietstilstand van 30 dae in die oorlog teen Rusland te aanvaar. Dit volg ná vredesamesprekings met Amerika in Saoedi-Arabië. Die ooreenkoms dek die hele frontlinie teen Moskou en nie net lug- en see-aanvalle nie. Zelensky sê Amerika moet Rusland nou oorreed. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê as Rusland die aanbod verwerp, sal die wêreld weet wat in die pad van vrede staan:
# Gholf: Die vyftienmalige Major-kampioen, Tiger Woods, is geopereer nadat hy sy linker-hakskeensening geskeur het toe hy tuis geoefen het. Die 49-jarige Woods sê in ʼn verklaring dokter Charlton Stucken van die Hospitaal vir Spesiale Operasies in Florida het die sening met minimum ingryping herstel. Hy sê die operasie het goed afgeloop en hy sal waarskynlik ten volle herstel. Woods, wat in Julie verlede jaar laas in ʼn amptelike PGA-toer meegeding het, kan moontlik ook Die Meesters by die Augusta Nasionaal misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-310-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-919-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….