Nuus 08:00
BULLETIN 11 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Musi Maimane sê daar is moeilike keuses oor staatsbesteding
# Die polisie het die afgelope week meer as 14-duisend verdagtes in hegtenis geneem
# En rugby: Die Arende, Tuks, Ikeys en Maties seëvier in die vierde ronde van die Varsitybeker
# Die voorsitter van die parlementêre staande komitee oor bewilligings, Mmusi Maimane, sê die land se basiese probleem is nie BTW nie, maar die gebrek aan groei wat die afgelope dekade gemiddeld een-persent was. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lewer môre sy begrotingsrede nadat dit verlede maand uitgestel is weens ‘n geskil in die regering van nasionale eenheid oor ʼn voorgestelde BTW-verhoging van twee-persent. Maimane sê moeilike besluite moet oor die regering se besteding en doeltreffendheid geneem word:
Intussen sê die Nasionale Skuilingbeweging van Suid-Afrika ‘n moontlike twee-persent BTW-verhoging kan ernstige gevolge inhou vir skuilings wat slagoffers van geslagsgeweld ondersteun. Die stygende onkoste en onvoorspelbare befondsing, kan skuilings dwing om hul dienste te verminder of behoeftiges weg te wys. Die beweging se koördineerder, Anisa Moosa, vrees die voorgestelde BTW-verhoging kan die finansiële spanning verder aanwakker en lei tot ‘n toename in geweldsmisdade teen vroue en kinders:
# Die afgelope sewe dae is altesaam 14-duisend-165 verdagtes landwyd vasgetrek en 155 onwettige vuurwapens teruggevind. In die jongste sukses het die polisie se teen-ontvoering-taakspan op vier onwettige vuurwapens beslag gelê en ʼn Ethiopiese sakeman van ʼn ontvoeringsindikaat in Kensington, Johannesburg, gered. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê vyf ontvoerders is gearresteer en een is doodgeskiet:
# ʼn Ondersoek is aan die gang nadat ʼn olietenkskip en ʼn vragskip Maandag in die Noordsee langs die Britse kus gebots en ʼn reusebrand uitgebreek het. Ses-en-dertig bemanningslede is gered en een persoon is hospitaal toe geneem. Een bemanningslid word nog vermis, maar die kuswag sê die soektog is afgelas. Die betrokke vaartuie is die Amerikaans-geregistreerde Stena Immaculate, wat brandstof namens die Amerikaanse weermag vervoer het, en die Solong onder die Portugese vlag wat 15 vraghouers met die chemiese stof, natriumsianied, vervoer het.
# Rugby: Die Noordwes-universiteit se Arende het die verdedigende kampioene van die Vrystaatse Universiteit met 59-14 verpletter en hul tweede agtereenvolgende sege in die Varsitybeker se vierde ronde behaal. Die Universiteit van Pretoria se Tuks is weer op die wenpad nadat hulle die Sentrale Universiteit van Tegnologie met 63-23 getroef het. Die Ikeys van Kaapstad het tien drieë gedruk in hulle spogoorwinning van 73-17 oor die Wits-universiteit. Intussen soek die Universiteit van Johannesburg steeds hul eerste oorwinning nadat hulle met 25-7 teen die Maties van Stellenbosch verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-419-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-896-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 69-dollar-6-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….