Nuus 08:00
BULLETIN 9 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom gee die versekering van onderhoudspogings om beurtkrag te keer
# ‘n Kenner verwelkom ‘n stromingsheffing vir SABC-befondsing
# En rugby: Die Haaie palm die SA-skild in na ‘n naelbyt-stryd teen die Leeus
# Die uitvoerende hoof van Eskom, Dan Marokane sê Suid-Afrika kan ‘n bestendige somer verwag met intensiewe onderhoudspogings wat voortduur. Marokane het met die media gepraat en bevestig dat drie-duisend-200-megawatt, wat Kusile-eenhede insluit, tot die netwerk herstel is. ‘n Bykomende 750-megawatt word vandag teruggevoeg, met twee-duisend-800-megawatt wat Maandagoggend verwag word. Hy gee die versekering dat maatreëls in plek is om terugslae te voorkom wat lei tot beurtkrag:
Op sy beurt sê die minister van Elektrisiteit en Energie Kgosientso Ramokgopa hy is teleurgesteld oor die instelling van fase 3 beurtkrag en maan dat dit ekonomiese groei kniehalter. Ramokgopa het die opwekkingsprestasie opgedateer en gesê die maatreël was nodig om reserwes te beskerm en aan te vul. Hy gee die versekering Eskom spreek die uitdagings aan om die netwerk se prestasie te verbeter en uiteindelik beurtkrag te beëindig. Hy bly vol vertroue dat die beplande onderhoudspogings positief vorder:
# Die stromingskenner Leslie Adams steun die instelling van ‘n stromingsheffing vir die SABC. Die minister van Kommunikasie Solly Malatsi het aangekondig planne is onderweg om ‘n stromingsheffing te ondersoek om te help met die SABC se finansiële probleme. In anwoord op ‘n parlementêre vraag van die IVP oor alternatiewe befondsing, het Malatsi gesê die heffing sal van toepassing wees op alle Suid-Afrikaners wat plaaslike en internasionale stromingsdienste gebruik. Adams sê stromingsheffingsmodelle sal help met die SABC se finansiële agterstand.
# Die Trump-administrasie het 7,3-miljard-rand se federale befondsing vir die universiteit van Columbia gekanselleer en sê hulle het nie anti-Semitisme op die kampus beveg nie. Die New Yorkse kollege was verlede jaar die brandpunt van pro-Palestynse betogings op kampusse teen die oorlog in Gaza en Amerikaanse steun vir Israel. ‘n Woordvoerder van Columbia het aan die BBC gesê die universiteit hersien die aankondiging en beloof om met die regering saam te werk om befondsing weer in te stel. Columbia is een van Amerika se mees vooraanstaande universiteite en het ongeveer 30-duisend studente.
# En rugby: Die Haaie het die Leeus met 25-22 geklop in ‘n taai Verenigde Rugby Kampioenskapstryd op Kingspark in Durban. Vir die tuisspan het die Springbokkaptein Siya Kolisi twee drieë gedruk, met Grant Williams en Nick Hatton wat ook oorgeduik het. Jordan Hendrikse het geslaag met ‘n strafskop en ‘n doelskop. Die Leeus se punte het gekom van drieë deur Tapiwa Mafura, Richard Kriel en Franco Marais, met twee verdoelings en ‘n strafskop deur Gianni Lombard. Die bonuspunt-oorwinning was genoeg vir die Haaie om die SA-skild in te palm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….