Nuus 08:00
BULLETIN 8 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Raad vir Gesondheidsorgbefondsers kritiseer die publikasie van die NGV-regulasies te midde van regsuitdagings
# BOSA dring aan op die bekendmaking van 32-duisend seksmisdadigers op die register
# En rugby: Die Sesnasies-titel kan vandag in Dublin bepaal word
# Die Raad vir Gesondheidsorgbefondsers het teleurstelling uitgespreek oor die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, se besluit om die regulasies van die Nasionale Gesondheidsversekeringswet te publiseer, ondanks voortdurende regsuitdagings. Die organisasie betwis op die oomblik die wet in die Hooggeregshof in Pretoria en sê president Cyril Ramaphosa moes dit na die Parlement terugverwys het vir heroorweging. Katlego Mothudi van die raad sê hulle ondersteun universele gesondheidsorg, maar is van mening die plan moet beide die NGV en bekostigbare mediese skemas insluit:
Intussen steun die Instituut vir Rasseverhoudings die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika se regstappe teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering. Hulle voer aan dat Suid-Afrikaners agt maande sedert die wet ingestel is, steeds nie weet met hoeveel hulle belasting sal verhoog om die skema te befonds nie. Makone Maja van die instituut versoek dat die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, duidelike begrotingsbesonderhede moet verskaf aangesien die koste van die wet tussen 200-miljard- en 1,3-duisend-miljard-rand kan beloop.
# Build One South Africa sê meer as 32-duisend veroordeelde seks-misdadigers verskyn op die nasionale register for seksmisdadigers, met duisende sake wat nog beslis moet word. Minister van Justisie Mmamoloko Kubayi het die syfers bekendgemaak na aanleiding van ‘n parlementêre vraag van die party. BOSA woordvoerder, Roger Solomons, voer aan dat die bekendmaking van die identiteit van seksmisdadigers noodsaaklik is vir die veiligheid van die publiek, veral gesien in die lig van die groot aantal gevalle van geslagsgebaseerde geweld:
# Voormalige Olimpiese sneeuplankryer Ryan Wedding van Kanada is op die Amerikaanse Federale Speurdiens se lys van die tien mees gesoekte voortvlugtendes. Hy word daarvan verdink dat hy ‘n geweldadige oor-grens dwelmnetwerk bedryf. Die 43-jarige het vermoedelik honderde kilogram kokaïen vanuit Colombia na bestemmings in Kanada en Amerika verskeep het, en dat hy verskeie moorde beplan het asook ‘n poging tot moord om hierdie aktiwiteite te bevorder. Ondersoekbeamptes glo dat hy moontlik in Mexiko woon. Wedding het deelgeneem aan die reuseslalom vir Kanada gedurende die 2002 Winter Olimpiese Spele in Salt Lake City.
# En rugby: Vandag se Sesnasies-wedstryd tussen die voorste twee spanne, Ierland en Frankryk, in Dublin, kan bepaal wie vanjaar se wenner is met nog ‘n ronde oor. Ierland, die tweemalige verdedigende kampioen, is boaan die punteleer op 14 punte, gevolg deur Frankryk op 11 en Engeland op 10. As die Iere wen, sal hulle die titel die derde agtereenvolgende jaar inpalm. As Frankryk wen, sal volgende naweek se laaste ronde bepalend wees. Vandag se ander twee wedstryde is tussen Skotland en Wallis in Edinburgh, en Engeland en Italië op Twickenham.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….