Nuus 08:00
BULLETIN 5 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Polisie sê die verraadondersoek word baie ernstig opgeneem
# Die MK-party veroordeel die verwydering van ‘n parlementslid
# En Zelensky beskryf sy ontmoeting met Trump as betreurenswaardig
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê die verraadondersoek na AfriForum en Solidariteit oor die beweerde verspreiding van vals inligting word in ‘n ernstige lig beskou. Die ondersoek volg na talle hoëvlakvergaderings in Washington tussen ʼn afvaardiging van die twee organisasies en amptenare van president Donald Trump se administrasie. Die organisasies is gekant teen die land se Onteieningswet en vermeende bedreigings teen Afrikaners. Mchunu het aan die Parlement gesê die Nasionale Vervolgingsgesag sal ʼn besluit oor die saak neem:
# Die MK-party het Visvin Reddy, sy parlementslid in die Nasionale Vergadering, se verwydering veroordeel en sê dis onregverdig en ondemokraties. Tydens ʼn debat oor ʼn verslag oor die portefeuljekomitee oor Water en Sanitasie, het Reddy geëis dat die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, bedank. Dit ten spyte van adjunkspeaker Annelie Lotriet se pogings om hom buite orde te verklaar. Nomahlubi Radebe van MK sê Reddy het die minister se versuim om die voortslepende waterkrisis in dele van die land te hanteer, ontbloot:
# Die Stad Kaapstad sê hy is verbind tot sy visie om energiesekerheid te bereik soos in die Stad se Energiestrategie 2050 uiteengesit is. As deel van sy nuwe begroting van 2024 tot 2027, belê die metro meer as vier-miljard-rand in kraginfrastruktuurprojekte. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê hulle is trots op die suksesvolle bekendstelling van die aanlyn kleinskaalse aansoekplatform vir ingebedde opwekking wat die aansoekproses makliker maak vir klante en installeerders:
# Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê sy ontmoeting met Amerika se president Donald Trump verlede week in die Withuis het verkeerd verloop en beskryf die gesprek as betreurenswaardig. Amerika het militêre hulp aan Kiev gestaak. Zelensky sê in ʼn plasing op X, voorheen Twitter, Oekraïne is gereed vir onderhandelinge om blywende vrede te bewerkstellig. Hy sê die eerste fases van ʼn vredesooreenkoms kan insluit die vrylating van gevangenes, ʼn verbod op die bombardering van energie- en ander burgerlike infrastruktuur, en ʼn skietstilstand ter see indien Rusland dieselfde doen.
# Motorsport: Ferrari se voormalige tegniese direkteur, Enrico Cardile mag eers in Julie vir Aston Martin begin werk. Dit volg na die Italiaanse span ‘n plaaslike hofsaak gewen het. Cardile het Ferrari in Julie verlede jaar verlaat en die twee spanne was sedertdien haaks oor sy begindatum by Aston Martin. Ferrari sê hy het reeds sy nie-mededingingsooreenkoms verbreek. Hy sê die doel van die betrokke bepaling in Cardile se kontrak was om te voorkom dat ander Formule Een spanne ‘n onregverdige mededingende voordeel verkry.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-850-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-908-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….