Nuus 08:00
BULLETIN 3 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-veteraneliga vra vir ‘n nugter debat oor die begroting
# Die DA sê hy sal geen BTW-verhoging aanvaar nie
# En rugby: Die Bok-vrouesewes eindig derde in die eerste been van Uitdagerreeks
# Die ANC-veteraneliga vra ‘n opbouende, ingeligte en sober debat oor die begroting. Dit is terwyl nog ʼn spesiale kabinetsvergadering vandag beplan word om ander voorstelle te oorweeg vir die Februarie-begroting wat onder andere verwerp is weens ʼn voorstel om BTW met twee-persent te verhoog. Die organisasie se president, Snuki Zikalala, sê die regering moet drastiese uitgawes sny en bewus wees van landsburgers se gevoelens te midde van hoë werkloosheid en voortslepende hoë lewenskoste.
Op sy beurt sê die DA hy weier om gyselaar gehou of geïntimideer te word deur die ANC se blatante dreigement om die EFF te nader om die begroting met die BTW-verhoging deur te druk. Volgens die Sunday Times het die ANC gedreig om die EFF te nader vir die vereiste meerderheid stemme indien die DA nie teen Woensdag toegee nie. Die Nasionale Tesourie stel volgens berigte nou ʼn BTW-verhoging van 0,75-persent voor. Mark Burke van die DA sê hulle is gekant teen enige BTW-verhoging:
# Die LUR vir Finansies in Gauteng, Lebogang Maile, sê die provinsie het meer as 17-duisend registrasie-aansoeke ontvang van spazawinkels en ondernemings wat kos hanteer. Net meer as sewe-duisend was van buitelandse burgers in alle munisipaliteite. Die registrasietydperk, wat gemik is op die formalisering van alle besighede wat kos hanteer, het Vrydag geëindig. Maile sê meer as vier-duisend-600 spazawinkels en voedselondernemings is goedgekeur, met 128 in die besit van buitelandse burgers:
# Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, sê Oekraïne het omvattende sekerheidswaarborge nodig om sy ekonomiese en militêre posisies te ondersteun. Europese leiers het Sondag in Londen ʼn noodberaad gehou om ʼn vredesplan vir Oekraïne te ontwikkel en aan Amerika voor te lê. Sy beskryf die beraad as ʼn goeie en reguit bespreking. Von der Leyen sê dis belangrik dat Oekraïne in ʼn posisie van krag staan om homself teen Rusland te verdedig. Sy voeg by hulle moet vir die ergste voorberei.
# Rugby: Die Springbok-vrouesewes het Colombië met 29-nul verpletter om derde te kom in die eerste deel van die Wêreld-sewes se Uitdager-reeks in Kaapstad. Suid-Afrika het die eindstryd misgeloop nadat Kenia hulle in die halfeindronde met 19-15 geklop het. Kenia het Argentinië in die eindstryd met 17-12 verslaan. Die Bok-vroue se afrigter, Renfred Dazel, sê hulle wou nie ná die eerste toernooi in die derde plek begin nie, maar dis ook nie die einde van die wêreld nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-501-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-861-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 73-dollar-4-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….