Nuus 08:00
BULLETIN 27 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê hy ondersteun ‘n onafhanklike en pluralistiese mediasektor
# Hamas oorhandig die liggame van vier gyselaars
# En krieket: Engeland is uit die Kampioenetrofee
# Die regering verwelkom die voorlopige uitkoms van die markondersoek na media- en digitale platforms wat deur die Mededingingskommissie gelei word. Die kommissie voer aan Google skep meer inkomste vir nuusinhoud as wat dit waarde vir uitgewers verskaf. Een van die aanbevelings is dat Google jaarliks tot 500-miljoen-rand betaal om Suid-Afrika se nuusbedryf te vergoed. Die adjunkminister in die Presidensie, Kenny Morolong, sê die regering bly verbind tot die ondersteuning van ‘n onafhanklike, pluralistiese en volhoubare mediasektor:
# Cosatu sê die regering se voorgestelde raamwerk om buitensporige mediese tariewe deur konsep-blokvrystellings te bekamp, is lankal nodig. Dit spreek die tekortkoming van twee dekades aan wat die skuld kry vir wegholkostes, vae prysvasstelling en ʼn stelsel waar pasiënte toenemend belas word met onvoorsiene uitgawes. Matthew Parks van Cosatu sê die monopolieë, samespanning en buitensporige tariewe wat mediese diensverskaffers volgens hom ten koste van pasiënte eis, is kommerwekkend:
# ActionSA in Gauteng sê hy is diep bekommerd oor die wanbestuur, korrupsie en skaamtelose minagting vir staatsfondse met gesondheidsinfrastruktuurprojekte in die Merafong-streek. Dit volg na onlangse bevindings deur die Spesiale Ondersoekeenheid oor die opknappingskandaal van 600-miljoen-rand by die AngloGold Ashanti Hospitaal, en die verwaarlosing van die Khutsong-Suid-kliniek. Katlego Molefe van ActionSA sê die misbruik van belastinggeld en minagting vir verkrygingsprosesse kan nie voortgaan nie:
# Israel het bevestig dat hy die liggame van vier gyselaars van Hamas ontvang het as deel van die skietstilstand-ooreenkoms. Die liggame is aan die Rooikruis oorhandig en is volgens Hamas die oorskot van Shlomo Mantzur, Tsachi Idan, Ohad Yahalomi en Itzhak Elgarat, wat tydens die aanval op 7 Oktober 2023 ontvoer is. Israel sê egter hulle is besig om DNS-toetse uit te voer om die identiteite te bevestig. Die land is ook besig om meer as 600 Palestynse gevangenes vry te laat.
# Krieket: Engeland is uit die Kampioenetrofee nadat hulle in Lahore, Pakistan, met agt lopies teen Afghanistan verloor het. Die aanvangskolwer Ibrahim Zadran het met 177 van 146 balle sy sesde eendag-honderdtal aangeteken en Afghanistan tot 325 vir sewe gebring. In antwoord is Engeland op 317 almal uit ten spyte van Joe Root se 120 van 111 balle. Snelbouler Azmatullah Omarzai het vyf paaltjies platgetrek. Engeland se kaptein, Jos Buttler, sê hulle is teleurgesteld om uitgeskakel te word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-854-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-907-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….