Nuus 08:00
BULLETIN 21 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa hou vol die regering van nasionale eenheid is nie in ‘n krisis nie
# Ses verdagtes is dood in ‘n skietgeveg met die polisie in die Oos-Kaap
# En Israel sê een van die liggame wat deur Hamas teruggegee is, is nie Shiri Bibas nie
# President Cyril Ramaphosa sê die geskil oor die nasionale begroting sal nie die regering van nasionale eenheid se bestaan bedreig nie. Partye in die koalisieregering het die voorstel dat BTW met twee-persent verhoog word, verwerp. Dit het gelei tot die uitstel van die begrotingsrede tot 12 Maart. Ramaphosa het die media by die G20-vergadering vir ministers van Buitelandse Sake in Johannesburg toegespreek en gesê alle partye is gewillig om gemeenskaplike grond te vind:
Die GOOD-party vra intussen die Nasionale Tesourie om genoeg tyd toe te laat vir behoorlike beraadslaging voordat die begroting op 12 Maart voorgelê word. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede is Woensdag uitgestel. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die BTW-verhoging sou byna 60-miljard-rand bykomende inkomste vir 2025/2026 geskep het, wat volgens hom absurd is:
# Ses gewapende verdagtes is Donderdag dood in ‘n skietery met die polisie op die N2 naby Ndabakazi buite Butterworth in die Oos-Kaap. Een is vermoedelik Yanga “Bara” Nyalara, Khayelitsha se mees gevreesde inwoner wat ook die baasbrein agter afpersing genoem word. Die polisiewoordvoerder, Siphokazi Mawisa, sê hulle het inligting opgevolg oor twee voertuie met vuurwapens wat van Cofimvaba af kom. Sy sê toe hulle die voertuie wou voorkeer, het die verdagtes weggejaag:
# Die Israelse weermag beskuldig Hamas van ʼn skending van die skietstilstand-ooreenkoms en sê toetse toon een van die vier liggame wat die groep oorhandig het, is nie dié van enige gyselaar nie. Die weermag sê hy het twee van die liggame wat Hamas Donderdag oorhandig het, as dié van Ariel en Kfir Bibas geïdentifiseer, maar die derde liggaam wat hul ma, Shiri, s’n moes wees, is nie haar oorskot nie. Die vierde liggaam is dié van die veteraan vredesaktivis, Oded Lifshitz.
# Tennis: Jiri Lehecka van die Tsjeggiese Republiek het die grootste oorwinning van sy lewe behaal toe hy die topgekeurde Carlos Alcaraz van Spanje met 6-3, 3-6, 6-4 verslaan het om die Katar Ope se halfeindronde in Doha te bereik. Die Britse nommer een, Jack Draper, was ʼn stel agter, maar het teruggeveg en die Italianer, Matteo Berrettini, met 4-6, 6-4, 6-3 geklop. Die Rus, Andrey Rublev, het die Australiër, Alex de Minaur, met 6-1, 3-6, 7-6 getroef en kom in die halfeindronde teen Felix Auger-Aliassime van Kanada te staan nadat Daniil Medvedev van Rusland weens siekte moes onttrek.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-289-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-929-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 76-dollar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….