Nuus 08:00
BULLETIN 19 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE sê die begroting moet die mense eerste stel, die ekonomie laat groei en vertroue herstel
# Verskeie woonbuurte in Pretoria-Oos is sonder krag ná ‘n substasiebrand
# En Trump beweer Oekraïne het die oorlog teen Rusland begin
# Die Congress of the People doen ‘n beroep op die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om ʼn begroting in te dien wat voorkeur gee aan ekonomiese groei. Die minister lewer vandag sy begrotingsrede in Kaapstad. COPE-woordvoerder, Pake Dikgetsi, sê hulle waarsku dat besparingsmaatreëls wat maatskaplike dienste betref terwyl miljarde weens korrupsie verlore gaan, sal die land verder in ʼn krisis dompel. Hy voeg by die regering moet voorkeur gee aan ekonomiese groei, werkskepping en die beëindiging van korrupsie en wanbestuur:
Die GOOD-party sê intussen die verhoging van die nasionale skuld is nie ʼn bekostigbare opsie nie en verhoging van BTW sal ʼn groter las op armes plaas. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê tans is sowat 18-miljoen Suid-Afrikaners arm genoeg om vir die toelaag van 370-rand per maand te kwalifiseer wat minder as die helfte is wat nodig is om genoeg kos te koop:
# Die Stad Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê nooddiensspanne het die brand by die Njala-substasie geblus wat groot dele van Pretoria-Oos sonder krag gelaat het. Dit volg nadat ʼn spanningstransformator Dinsdagaand by die substasie ontplof en ʼn brand veroorsaak het. Gebiede soos Mooikloof, Wapadrand, Highlands, en Wingate is geraak. Gauteng beleef tans ontwrigtende reënval. Moya sê die omvang van die skade aan die substasie moet nog bepaal word.
# Amerika se president Donald Trump sê Oekraïne moes nooit die oorlog teen Rusland begin het nie en beweer president Volodymyr Zelensky kon ʼn ooreenkoms aangegaan het. Rusland het in Februarie 2022 ʼn inval in Oekraïne begin en beheer tans meer as ʼn vyfde van sy grondgebied, veral in die suide en ooste. Zelensky het sy teleurstelling uitgespreek dat Kiëf Dinsdag uitgesluit is van vredesamesprekings tussen Amerika en Rusland in Saoedi-Arabië. Trump sê hy het die mag om hierdie oorlog te beëindig:
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Novak Djokovic, is in die eerste ronde van die Katar Ope in Doha uitgeskakel. Die Serwiër, wat die eerste keer gespeel het sedert hy aan sy halfeindronde-wedstryd in die Australiese Ope onttrek het, is deur die Italianer, Matteo Berrettini verslaan. Die ongekeurde Hamad Medjedovic van Serwië het die Griek, Stefanos Tsitsipas geklop terwyl Daniil Medvedev van Rusland sy landgenoot en verdedigende kampioen, Karen Khachanov afgeransel het. Die Australiër Alex de Minaur en Andrey Rublev van Rusland het ook seges behaal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-685-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-928-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….