Nuus 08:00
BULLETIN 18 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kernenergiekorporasie ontken Trump se bewerings oor samewerking met Iran
# My Vote Counts sê politieke partye moet alle skenkings verklaar
# En 18 is beseer in ‘n Toronto-vliegongeluk
# Die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie het die Amerikaanse president, Donald Trump, se bewering dat die land saam met Iran werk aan kernooreenkomste, ten sterkste ontken. ‘n Uitvoerende bevel van die Trump-administrasie op die sewende van die maand verklaar die land versterk sy verhouding met Iran om kommersiële, militêre en kernkrag-ooreenkomste te ontwikkel. Suid-Afrika bedryf Afrika se enigste kernkragaanleg by Koeberg. Necsa se uitvoerende hoof, Loyiso Tyabashe, sê hulle doen geen werk saam met Iran nie:
# My Vote Counts sê voorgenome kiesers moet besluite neem op alle beskikbare inligting, insluitend wie die politieke party van hul keuse befonds. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof hoor hierdie week die organisasie se saak aan oor die grondwetlikheid van die Wet op Politieke Befondsing. My Vote Counts sê die wet is irrasioneel en ongrondwetlik, want die drumpel van 100-duisend-rand kan omseil word wanneer maatskappye of individue verskeie skenkings deur verskillende instellings maak. Die Parlement staan die aansoek teen en sê hy volg die vereiste prosesse wanneer hy wetgewing aanvaar.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê hulle werk tans aan waterprobleme wat dienslewering by die Kopanong-hospitaal in Vereeniging benadeel, en aan elektrisiteitsprobleme by die Weskoppies-hospitaal in Tshwane. Die Kopanong-hospitaal het weens lae druk probleme met watertoevoer. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê Weskoppies-hospitaal het sedert Saterdag kragonderbrekings, onder meer in sekere sale en eenhede wat nie deur kragopwekkers gerugsteun word nie:
# Minstens 18 mense is beseer waarvan drie ernstig is toe ʼn Delta Airlines-vliegtuig tydens landing by Kanada se Toronto Pearson Internasionale Lughawe op sy dak beland het. Die vliegtuig van Minnesota het bemanning en 76 passasiers aan boord gehad, waarvan 22 Kanadese was. Die president en uitvoerende hoof van Toronto Pearson Internasionale Lughawe, Deborah Flint, sê Kanada se Vervoer-veiligheidsraad het ʼn span ontplooi om die voorval te ondersoek:
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, is deur na die ronde van 16 by die Katar Ope in Doha. Die Spanjaard het hard gewerk vir sy 6-4, 6-4-sege teen die Kroaat, Marin Cilic, wat sy eerste wedstryd van die seisoen gespeel het nadat hy lank buite aksie was weens ʼn kniebesering. Jiri Lehecka van die Tsjeggiese Republiek het die sewende gekeurde Grigor Dimitrov van Bulgarye met 6-4, 6-4 geklop. Die Britse nommer een, Jack Draper, het ná ʼn besering teruggekeer en die Australiër, Alexei Popyrin, met 6-2, 7-6 verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-169-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-909-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….