Nuus 08:00
BULLETIN 25 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê Afrika moet aan die hele wêreld bewys dat hy nie xenofobies is nie
# Minister Steenhuisen verwelkom die afkondiging van die Wysigingswet op Landbouprodukstandaarde
# En swem: Kris Mihaylov wen goud by die Junior Wêreldwatersportkampioenskap
# EFF-leier Julius Malema sê mede-Afrikane is nie die oorsaak van Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer nie, want die ware vyand is ‘n onhervormde ekonomie in die hande van die wit minderheid en multinasionale ondernemings. Hy het Sondag die hoofrede gelewer by die opening van die Nigeriese Balievereniging se jaarlikse algemene konferensie in Enugu, Nigerië. Die vereniging is Afrika se grootste beroepsliggaam vir prokureurs met meer as 120-duisend lede in Nigerië en ander lande. Malema sê Afrika moet aan die wêreld bewys hy is nie xenofobies:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê die Wysigingswet op Landbouprodukstandaarde stel ʼn nuwe kultuur bekend wat ʼn inklusiewe en deursigtige benadering bring om inspeksiefooie te bepaal. President Cyril Ramaphosa het die wet verlede week in die Staatskoerant bekragtig ná die minister se aanbevelings. Steenhuisen sê die wysigings se bekragtiging ondersteun en versterk die wetlike regeringsdoelwitte om deursigtigheid en regverdigheid in handel te verseker. Hy sê dit beskerm ook verbruikers teen misleidende aansprake oor produksiemetodes.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, doen ʼn beroep op die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, om weens toenemende bendegeweld dringend nood-hulpbronne aan die Teenbende-eenheid toe te wys. Die eenheid het volgens berigte ʼn geweldige tekort aan voertuie, vuurwapens en koeëlvaste onderbaadjies. Hill-Lewis sê ʼn groot deel van die oplossing is om die metro se toenemende polisiehulpbronne saam met die SAPD in te span in die stryd teen bende-, vuurwapen- en dwelmmisdade:
# Die Franse ministerie van Buitelandse Sake het Amerika se ambassadeur, Charles Kushner, ontbied nadat hy ʼn brief aan president Emmanuel Macron geskryf het waarin hy beweer Frankryk doen te min om geweld teen Jode te bekamp. Kushner doen in ʼn ope brief in die Wall Street Journal ʼn beroep op Macron om dringend haatmisdaad-wette toe te pas en sy kritiek oor Israel te versag. Die ministerie sê Kushner se bewerings is onaanvaarbaar en die toename in anti-Semitiese dade in Frankryk sedert 7 Oktober 2023 is ʼn werklikheid wat die regering betreur.
# Swem: Die Suid-Afrikaner Kris Mihaylov het sy eerste goue internasionale junior medalje in die 200 meter-vlinderslag in Roemenië gewen. Die 18-jarige swemmer het sy vorige persoonlike beste tyd laat spat en twee sekondes vinniger as in die kwalifiserende rondes geswem om in een-minuut-56,16-sekondes klaar te maak. Die Hongaar David Antal het silwer gewen en Tuncer Berk Ertürck van Turkye spog met brons. Die Italianer Carlos D’Ambrosio en Peiqi Yang van China is onderskeidelik aangewys as die beste mans- en beste vroue-atleet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45 sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-57 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-372 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-365-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….