Nuus 08:00
BULLETIN 14 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê die verlies aan Amerikaanse fondse is skokkend
# Trump gee sy administrasie opdrag om wederkerige tariewe teen Amerikaanse handelsvennote in te stel
# En gholf: Jacques Blaauw van Suid-Afrika A loop voor by die NTT Data Pro-Am
# Business Leadership South Africa sê die verlies aan Amerikaanse befondsing is wesenlik, veral vir Pepfar, die president se noodplan vir vigsverligting, wat ‘n belangrike deel is van die land se bestuur van die MIV/vigs-pandemie. Pepfar het verlede jaar 8,5-miljard-rand bygedra tot regstreekse befondsing aan Suid-Afrika wat ʼn groot deel is van die 30-miljard-rand wat aan die stryd teen MIV bestee is. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, sê Amerika bly ʼn belangrike handelsvennoot van Suid-Afrika en onderskeie privaat sektors het uitgebreide verhoudings wat sterk moet bly.
# Die DA sê hy glo vas digitalisering is noodsaaklik om baie van Suid-Afrika se huidige probleme aan te spreek. Die Departement van Binnelandse Sake het hierdie week die nuwe digitale platform vir die Vertroude Toeroperateur-skema bekendgestel wat visum-aansoeke wil vergemaklik. Willie Aucamp van die DA sê die portaal is ʼn voorbeeld van die manier waarop digitalisering werkskepping kan bevorder en uiteindelik die land se ekonomie kan baat:
# Die Suid-Afrikaanse Korrektiewe Dienste Werkersvakbond vra die Departement van Korrektiewe Dienste om veiligheidsmaatreëls by alle fasiliteite te hersien en te verskerp. Dit volg nadat Yanga Wayithi, wat ʼn vonnis van ses maande vir diefstal en oortreding uitgedien het, Dinsdag uit die Pollsmoor-gevangenis ontsnap het. Hy is Woensdag weer vasgetrek. ʼn Vakbondwoordvoerder, Alude Jizana, sê die departement moet ook genoeg opleiding en hulpbronne bied aan gevangenisse se veiligheidspersoneel:
# President Donald Trump van Amerika het ʼn memorandum onderteken dat sy administrasie oorweeg om teentariewe in te stel teen lande wat markte vir Amerikaanse goedere belas of beperk. Die wederkerige tariewe sal gelyk wees aan die belastingkoers wat ander lande op Amerikaanse invoergoedere plaas. Enige nuwe tariewe sal die 25-persent invoertarief volg wat Trump reeds ingestel het teen staal en aluminium uit verskeie lande, en die bykomende tien-persent belasting op alle invoere uit China. Trump sê hulle wil die speelveld gelyk maak:
# Gholf: Jacques Blaauw van Suid-Afrika het ʼn nege onder baansyfer 63 behaal vir die klubhuis-voorsprong in die aanvangsronde van die NTT Data Pro-Am by Fancourt in die Wes-Kaap. Hy is twee houe voor die Deen, Christoffer Bring. Eddie Pepperell van Engeland en JC Ritchie van Suid-Afrika is ook op sewe onder, maar moet nog hul eerste ronde voltooi nadat dit Donderdag weens die weer en swak lig uitgestel is. Die eerste ronde word vanoggend afgehandel en die twee ronde se afslaantyd is ooreenkomstig aangepas.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-201-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-925-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-88-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….