Nuus 08:00
BULLETIN 13 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid ontbloot ‘n bedrieglike skema by Eskom
# Nog ‘n seun is suksesvol uit Zimbabwe gerepatrieer
# En Trump sê vredesonderhandelinge in die Russies-Oekraïnse konflik sal onmiddellik begin
# Die Spesiale Ondersoekeenheid sê hy het ‘n skema ontbloot waar Eskom-werkers verkrygingsprosesse gemanipuleer het om meer as ʼn miljard-rand te steel. Dis in kleiner kontrakte verdeel om strenger oorsig te ontduik. Die eenheid se hoof, Andy Mothibi, het Woensdag aan die staande komitee oor Openbare Rekeninge gesê die skema is uitgebrei na familielede en instellings se netwerke om gesteelde geld te was. Hy sê 334 werknemers het finansiële bande met Eskom-verkopers terwyl vyf-duisend-464 werknemers nagelaat het om konflik van belange verklaar:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë sê hy het regsadvies ingewin oor die moontlikheid om ʼn parlementêre ondersoek in te stel na die Staatsagentskap vir Inligtingstegnologie se sake. Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, het in Desember verlede jaar die Staatsdienskommissie versoek om bewerings van wanadministrasie en bestuurskwessies by SITA te ondersoek. Die komitee sê die ondersoek sal fokus op bestuurs- en bedryfsondoeltreffendheid, ‘n hoë personeelomset op die uitvoerende vlak en kommer oor personeel.
# ʼn Jong Suid-Afrikaanse seun wat byna twee jaar lank vermis was, is uit Zimbabwe teruggestuur huis toe. Die kind wat net 11 was toe hy vermis geraak het, het in Mei 2023 van sy huis verdwyn en op ʼn bus na Zimbabwe geklim. Hy is by die Zengeza-polisiekantoor in Harare afgelaai. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se woordvoerder, Bathembu Futshane, sê dit het ʼn ingewikkelde oorgrens-kinderbeskermingsaak aan die gang gesit. Dit het daartoe gelei dat die seun opgespoor en met sy familie in Johannesburg herenig is:
# President Donald Trump sê hy het Woensdag ʼn produktiewe telefoongesprek met die Russiese president, Vladimir Putin, gehad. Hy sê hulle het ooreengekom om onmiddellik met onderhandelings te begin om die oorlog in Oekraïne te beëindig. Trump het ook met Oekraïne se president Volodymyr Zelensky gepraat oor blywende vrede. Meer as 40-duisend burgerlikes is in die oorlog dood. Trump sê die minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sal die vredesonderhandelings lei:
# Tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek, se doelwit van ʼn vierde agtereenvolgende Katar Ope-titel is steeds moontlik nadat sy na die kwarteindronde in Doha deurgedring het. Die wêreld se nommer twee van Pole het die Tsjeg, Linda Noskova geklop om haar 14de opeenvolgende wedstryd in die toernooi te wen. Swiatek kom nou teen Elena Rybakina van Kazakstan te staan wat die Slowaak, Rebecca Sramkova verslaan het. Jelena Ostapenko van Letland en die Amerikaner Jessica Pegula het ook hul onderskeie wedstryde gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-503-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-915-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….