Nuus 08:00
BULLETIN 11 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Patriotic Alliance-leier soek wraak teen die M23-rebelle
# Duduzile Zuma-Sambudla staar skorsing uit die MK-party in die gesig
# En Trump sê alle hel sal losbreek as Hamas nie alle gyselaars teen Saterdag vrylaat nie
# Die leier van die Patriotic Alliance, Gayton McKenzie vra wraak teen die M23-rebelle wat verantwoordelik is vir die dood van 14 soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Demokratiese Republiek die Kongo. McKenzie het tydens ‘n dringende Parlementêre debat sy medelye met die gesneuwelde soldate se naasbestaandes betuig. Hy het lede van die Parlement wat beweer hulle is opperbevelvoerders gekritiseer en daag hulle uit om saam met die soldate te gaan veg:
# Die MK-party het inskrywings op sosiale media veroordeel waarin Duduzile Zuma-Sambudla die party se sekretaris-generaal, Floyd Shivambu, beledig. In opmerkings op X verwerp Zuma-Sambudla Shivambu se leierskap en sê hy is die slegste ding wat nog met die MK-party gebeur het. Die party se president Jacob Zuma het sy dogter, Zuma-Sambudla, beveel om Shivambu in die openbaar en in alle strukture waarin sy dien of lei verskoning te vra. Zuma sê as sy dit nie doen nie, sal haar lidmaatskap opgehef word en sy sal uit alle party-verantwoordelikhede insluitend die Parlement geskors word.
# Die Stad Kaapstad sê hulpbronne is gereed om sigbare polisiëring in Nyanga uit te brei. Dertien taxi’s, vier bussies en ‘n privaat voertuig is vernietig toe ʼn brand Sondagaand deur die Nyanga-taxistaanplek gewoed het. Die polisie ondersoek ʼn saak van brandstigting. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê hierdie voorval kom slegs weke ná ʼn noodlottige skietery by die taxistaanplek wat tot meer as tien inhegtenisnemings gelei het:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het voorgestel die skietstilstand tussen Israel en Hamas word gekanselleer as al die gyselaars in Gaza nie teen Saterdag vrygelaat word nie. Dit volg nadat Hamas gesê het die volgende vrylating van gyselaars word uitgestel en Israel beskuldig het dat hy die skietstilstand-ooreenkoms verbreek. Sedert die skietstilstand op 19 Januarie begin het, is 16 Israelse en vyf Thaise gyselaars vrygelaat in ruil vir 566 Palestynse gevangenes. Trump het ook sy twyfel uitgespreek of baie gyselaars lank genoeg sal bly leef om vrygelaat te word:
# Tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek, is deur na die ronde van 16 by die Katar Ope waar sy probeer om haar vierde agtereenvolgende titel in Doha op te raap. Die wêreld se nommer twee van Pole het Maria Sakkari van Griekeland verslaan. Die tiende gekeurde Daria Kasatkina van Rusland het haar landgenoot, Polina Kudermetova, in slegs 42 minute verpletter in een van die vinnigste WTA-wedstryde ooit. Die Tsjeggiese jongeling, Linda Noskova, het die 15de gekeurde Kroaat, Donna Vekic uitgeskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-een-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-949-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-924-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….