Nuus 08:00
BULLETIN 10 Februarie 2025 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF is nie ontsteld oor Elon Musk se aanval op Julius Malema nie
# Die MK-party gaan ‘n saak van hoogverraad teen AfriForum open
# En tennis: Carlos Alcaraz wen die Rotterdam Ope
# Die EFF het teruggekap nadat die Suid-Afrikaans-gebore miljardêr, Elon Musk, gesê het die partyleier Julius Malema moet gestraf en as internasionale misdadiger verklaar word. Dit volg nadat Musk ou video’s op X geplaas het waar Malema sê witheid se keel moet afgesny word. Die EFF-woordvoerder, Sinawo Thambo, sê Musk se opmerkings teen Malema kom neer op inmenging by die land se huishoudelike sake en voeg by dit verklaar die miljardêr as vyand van Suid-Afrika:
# Die MK-party sê hy gaan vandag by die polisiekantoor in Kaapstad-sentraal ‘n saak van hoogverraad teen AfriForum aanhangig maak. Die organisasie het verklaar hy gaan aan die Amerikaanse regering skryf om sanksies teen ANC-leiers te vra wat volgens hom beleid deurdruk tot nadeel van Suid-Afrika. AfriForum beskryf die Onteieningswet as ʼn bose en ontwrigtende beleid, en veroordeel veral dat dit voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding. Die MK-party se adjunkpresident John Hlophe sal die optog na die polisiekantoor lei.
# Die GOOD-party sê Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het gejok toe hy beweer hy het bewyse van die polisie ontvang nadat hulle ʼn klopjag uitgevoer het op die gewese burgemeesterskomiteelid Malusi Booi se kantoor, maar nie na die klopjagte op JP Smith en Xanthea Limberg se kantore nie. Die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê in 2023 het Hill-Lewis vir Booi uit sy amp verwyder, nie oor die polisie se bewyse nie, maar omdat die ondersoek ernstig genoeg was om onmiddellike optrede te regverdig. Hy sê die burgemeester het dit egter nie met Smith en Limberg gedoen nie:
# Israelse soldate het in ooreenstemming met die skietstilstand-ooreenkoms onttrek uit die Netzarim-deurgang. Dis ʼn militêre strook wat die noorde van die Gaza-strook van die suide skei. Die Israelse weermag het die deurgang geskep en beset om ʼn strategiese, sentrale pad te bied wat die ingeslote grondgebied kruis. In die eerste paar uur nadat die deurgang oopgestel is, het sowat 500-duisend ontheemde Palestyne teruggegaan na die noorde van Gaza. Sestien Israeli-gyselaars en 566 Palestynse gevangenes is tot dusver vrygelaat as deel van die skietstilstand se eerste fase.
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, het sy eerste binnenshuise, hardebaan-titel van sy loopbaan behaal toe hy die Rotterdam Ope in Nederland gewen het. Die 21-jarige Spanjaard het die Australiër Alex de Minaur met 6-4, 3-6, 6-2 geklop om sy 17de toer-sege te behaal. Hy is die eerste Spaanse kampioen in die toernooi se geskiedenis van 52 jaar. Alcaraz sê hy het baie selfvertroue gekry na sy vertoning in die toernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50X-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-en-12 dollar. Die prys van goud is twee-duisend-873-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….