Nuus 08:00
BULLETIN 7 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula sê die staatsrede bevat praktiese planne wat toegepas kan word
# Steenhuisen sê die DA se belangrikse beleidsrigtings is in die staatsrede vervat
# En Trump onderteken ‘n uitvoerende bevel om sanksies teen die Internasionale Strafhof in te stel
# Die ANC het president Cyril Ramaphosa se staatsrede verwelkom en sê hy bied ‘n mediumtermyn-ontwikkelingsplan vir die land. Ramaphosa het in sy toespraak gefokus op kwessies soos die ekonomie, werkskepping, munisipaliteite en korrupsie. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die plan bestaan uit praktiese dinge wat toegepas kan word om mense se lewens te verbeter:
Op sy beurt sê die DA-leier en minister van Landbou, John Steenhuisen, sy party se beleid wat ekonomiese groei en werkskepping bevorder, was ʼn belangrike deel van die staatsrede. Die president het gesê die regering van nasionale eenheid sal nog ʼn fase hervormings instel om ekonomiese groei bo drie-persent te kry. Steenhuisen sê die beleid moet nou dringend ingestel word:
Maar die EFF-leier Julius Malema sê Ramaphosa het in sy staatsrede ou beloftes herhaal en leë retoriek verkondig. Die president het gisteraand sy staatsrede in Kaapstad se stadsaal gelewer. Malema sê Ramaphosa het misluk om beloftes aan burgers na te kom en weereens bewys sy leierskap is gebou op misleiding en politieke vertoon:
# President Donald Trump het ʼn uitvoerende bevel onderteken om sanksies teen die Internasionale Strafhof in te stel en beskuldig die hof van ongegronde en onwettige optrede teen Amerika en Israel. Dit stel finansiële sanksies in en keer visums vir strafhof-werknemers en hulle gesinne wat gehelp het met ondersoeke na Amerikaanse burgers of hul bondgenote. Die strafhof het in November lasbriewe vir inhegtenisneming uitgereik vir Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, en sy destydse minister van Verdediging, Yoav Gallant, vir misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade. Die bevel sê die hof bedreig Amerikaanse soewereiniteit.
# Krieket: Die tweemalige kampioene, Sunrisers Eastern Cape, is deur na hul derde agtereenvolgende SA20-finaal nadat hulle Paarl Royals in Centurion met agt paaltjies verslaan het. Die Royals het in hul 20 boulbeurte 175 vir vier op die telbord geplaas. In antwoord het Tony de Zorzi en Jordan Hermann 111 op die tweede paaltjie gedeel en die Sunrisers het die teiken gehaal met vier balle oor. Die verdedigende kampioene kom in Saterdag se eindstryd op die Wanderers teen MI Cape Town te staan. Sunrisers se kaptein, Aiden Markram, is opgewonde:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-353-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-867-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 74-dollar-50-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….