Nuus 08:00
BULLETIN 6 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP verwag van Ramaphosa om ‘n padkaart vir die land te verskaf
# Die Rea Vaya-busdiens is terug op Johannesburg se paaie
# En Argentinië sê hy gaan uit die Wêreldgesondheidsorganisasie onttrek
# Die IVP sê president Cyril Ramaphosa moet ‘n omvattende uitleg gee van die regering se planne om die land se grootste probleme aan te spreek. Die president lewer vanaand sy Staatsrede in Kaapstad. Die IVP sê hy verwag dat Ramaphosa die Mediumtermyn-ontwikkelingsplan gebruik as die ooreengekome minimum program van die regering van nasionale eenheid. Hy sê hy verwag ook dat die president ʼn uiteensetting sal gee hoe hy instellings gaan versterk, korrupsie gaan beveg en goeie regering gaan bevorder.
Die GOOD-party sê intussen Ramaphosa moet sê hoe sy regering armoede gaan aanspreek. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die land kan nie ʼn regering bekostig wat sy eie Nasionale Tesourie se erkenning ignoreer dat 18-miljoen Suid-Afrikaners onder die broodlyn leef nie:
# Die Stad Johannesburg se Vervoerdepartement sê die Rea Vaya-busdiens het hervat nadat dit Dinsdagoggend tydelik gestaak is. Die dienste se opskorting volg nadat twee bestuurders Maandagaand in Soweto doodgeskiet is. Die metro se woordvoerder, Virgil James, sê hulle het ʼn omvattende veiligheid- en sekuriteitsplan van die Veiligheid- en Sekuriteitsforum ontvang. Hy sê die plan sit uiteen hoe Rea Vaya-busse en passasiers op die busroetes van die depots na die eindbestemmings en terug begelei gaan word:
# Argentinië se president, Javier Milei, het aangekondig sy land gaan aan die Wêreldgesondheidsorganisasie onttrek. Hy sê landsburgers gaan nie ʼn internasionale organisasie toelaat om by hul soewereiniteit in te meng nie, en nog minder by hul gesondheid. Hy skryf sy besluit toe aan die WGO se hantering van die Covid-19-pandemie, en ʼn gebrek aan onafhanklikheid in die lig van sommige state se politieke invloed. President Donald Trump het Amerika verlede maand ook aan die WGO onttrek.
# Krieket: Die verdedigende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, se poging om ʼn ongekende derde SA20-titel op te raap, bly op koers. Hulle het die Joburg Super Kings met 32 lopies verslaan in die beslissende wedstryd in Centurion. Kaptein Aiden Markram het ʼn onoorwonne 62 behaal en die Sunrisers het 184 vir ses op die telbord geplaas. In antwoord daarop het die Super Kings 152 vir sewe aangeteken. Die Sunrisers takel vandag die Paarl Royals in die tweede kwalifiserende wedstryd vir ʼn plek in die eindstryd teen MI Cape Town. Markram sê hulle prestasie is amper voltooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-371-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-869-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….