Nuus 08:00
BULLETIN 3 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe sal die hoofrede lewer by die Belegging in Afrika-mynbou Indaba
# Mexiko, Kanada en China gaan vergeldingstariewe teen die VSA instel
# En netbal: Suid-Afrika het die gasvrou Engeland in die Nasiesbeker geklop
# Die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, gaan vandag namens President Cyril Ramaphosa in Kaapstad die hoofrede lewer by die Belegging in Afrika-mynbou Indaba. Die geleentheid is die wêreld se grootste byeenkoms van mynbou se invloedrykste rolspelers en besluitnemers met belange in die mynwese in Afrika. Die tema is om die mynbedryf in Afrika toekomsbestand te maak. Besprekings sal handel oor tegnologiese vordering, inklusiewe groei en die belangrikheid van volhoubaarheid.
# Die vakbond Giwusa het die inhegtenisneming verwelkom van vier polisiebeamptes wat beskuldig word dat hulle ‘n vermeende onwettige mynbaas van Stilfontein in Noordwes, Neo Tshoaeli, help ontsnap het. Hy het ontsnap nadat hy en 240 ander tydens ʼn regeringsoperasie uit die na die oppervlak gekom het. Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het bevestig die betrokke beamptes is van die Vala Mgodi-operasie verwyder en interne departementele tugstappe word gedoen. Giwusa se president, Mametlwe Sebei, sê hulle glo nie Tshoaeli is die ware baasbrein nie:
# Die Vryheidsfront Plus sê hy sal sy koalisie-verpligtinge in die Swellendam-munisipaliteit in die Wes-Kaap nakom, maar hy bly verbind tot skoon regering, wie ook al in beheer is. Dit kom nadat die VF Plus-raadslid, Juan van Schalkwyk, ten gunste van ʼn mosie van wantroue teen die gewese DA-burgemeester, Francois du Randt, gestem het. Die VF Plus-woordvoerder, Wouter Wessels, sê die party se federale bestuurskomitee het besluit om in die komende raadsverkiesing volgens die koalisie-ooreenkoms vir ʼn DA-kandidaat te stem:
# Mexiko, Kanada en China het aangekondig dat hulle wraak-tariewe teen Amerika gaan instel. Dit volg nadat president Donald Trump aangekondig het belasting van 25-persent word van Dinsdag af op Kanadese en Mexikaanse invoere gehef en ʼn bykomende tien-persent op Chinese goedere. Kanada en Mexiko het albei aangekondig dat hulle dan tariewe van 25-persent op Amerikaanse goedere gaan hef. China sê hy gaan ʼn regsaak by die Wêreld-handelsorganisasie aanhangig maak. Kanada se eerste-minister-kandidaat, Chrystia Freeland, sê die land is vasbeslote om vir homself op te staan:
# Netbal: Suid-Afrika het die gasvrouland, Engeland, Sondagaand by die Motorpoint-arena in Nottingham met 61-59 geklop en is die enigste onoorwonne span in die Nasiesbeker. Die twee spanne was in die eerste driekwart van die wedstryd gelykop, maar Suid-Afrika wat vyfde gekeur is, het in die laaste 15 minute sokkies opgetrek en die vierde gekeurde Engeland gewen. Suid-Afrika het die aanvangswedstryd teen Uganda met 75-40 gebuit. Engeland kom volgende teen Uganda te staan terwyl Suid-Afrika en Malawi Saterdag in die finale groepwedstryde kragte meet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-326-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-775-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76 dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….