Nuus 08:00
BULLETIN 31 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF eis die onmiddellike hersiening van Nersa se tariefgoedkeuringsproses
# Die Wes-Kaapse premier oorhandig die George-ineenstortingsverslag aan die SAPD
# En die VN se Wêreldvoedselprogram waarsku oor afleweringsprobleme in Soedan
# Die EFF sê die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika se besluit om Eskom se tariefverhoging goed te keur, is onregverdigbaar en sal ‘n ernstige finansiële las op huishoudings en sakeondernemings plaas. Nersa het verhogings van 12,74-persent vir die 2025/2026-boekjaar, 5,36-persent vir 2026/2027, en 6,19-persent vir 2027/2028 goedgekeur, wat aansienlik laer is as Eskom se aanvanklike versoek. Die EFF sê hy eis ʼn onmiddellike hersiening van die Nersa-tarief se goedkeuringsproses en dringende ingryping om die beplande tariefverhogings vir 2026 en 2027 te keer.
AfriForum sê intussen hy gaan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika se goedkeuring van Eskom se tariefaanpassings vir die volgende drie jaar ondersoek om vas te stel of dit aan alle regsvereistes voldoen. Die goedgekeurde verhogings sluit in 12,74-persent vir die 2025/2026-boekjaar, 5,36-persent vir 2026/2027, en 6,19-persent vir 2027/2028, wat aansienlik minder is as Eskom se aanvanklike versoek. AfriForum se woordvoerder, Morné Mostert, sê dit kom voor of Nersa Eskom toelaat om onregmatige uitgawes deur elektrisiteitstariewe te herwin:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die verslag oor die gebou wat in George ineengestort het, amptelik aan die provinsiale polisiekommissaris, Thembisile Patekile, en hoofondersoekbeampte, kaptein Johan de Lange, oorhandig. Vier-en-dertig mense is dood en talle beseer toe die gebou wat in aanbou was, in Mei verlede jaar ineengestort en die meeste werkers onder puin vasgekeer het. Winde sê die verslag bevat die onafhanklike ondersoek waarvoor die provinsiale regering opdrag gegee het, se bevindings oor die struktuur:
# Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram sê toenemende gevegte en probleme om humanitêre konvooie in Soedan te kry, belemmer vinnige en volgehoue lewering van hulp. Sowat 24,6-miljoen mense staar ernstige voedselonsekerheid in die gesig en 27 plekke reg oor Soedan beleef hongersnood of loop gevaar dat hongersnood uitbreek. Die voedselprogram sê die Rapid Support Forces het ongeveer 40 vragmotors met humanitêre hulp byna drie weke lank teruggehou en nuwe goedkeuring en inspeksies vereis. Hy voeg by daar is die afgelope drie maande groot vordering gemaak om hulp in moeilik bereikbare plekke af te lewer.
# Krieket: Op die Wanderers het die Joburg Super Kings hul hoop op ʼn plek in die SA20-uitspeelrondes lewend gehou met ʼn sewe-paaltjie-sege oor die Paarl Royals wat boaan die punteleer is. Donovan Ferreira en Lutho Sipamla het elk drie paaltjies platgetrek en die Royals is tot 150 vir nege beperk. In antwoord daarop het kaptein Faf du Plessis 87 van 55 balle behaal en die Super Kings het die teiken bereik met sewe paaltjies staande. Du Plessis sê hy het sy spel-plan goed uitgevoer, veral in die kragspel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-55-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-796-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….