Nuus 08:00
BULLETIN 28 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa en die Rwandese president Kagame stem saam oor ‘n dringende skietstilstand in die DRK
# COPE sê Ramaphosa moet die nasie toespreek oor Suid-Afrikaanse soldate wat in DRK gesneuwel het
# En krieket: Paarl Royals beëindig Durban’s Super Giants’ se hoop om uitspeelrondes te bereik
# Die Presidensie sê president Cyril Ramaphosa het telefonies met sy Rwandese ampsgenoot, Paul Kagame, gepraat om die onlangse verwikkelings en toenemende gevegte in die ooste van die DRK te bespreek. Dit volg nadat nege Suid-Afrikaanse soldate verlede week dood is in gevegte met die M23-rebellegroep wat deur Rwanda ondersteun word. Die Presidensie sê die twee staatshoofde het saamgestem ‘n skietstilstand is dringend nodig en vredesonderhandelinge tussen alle partye moet hervat word.
# In nog ‘n verwikkeling sê die Congress of the People sê as hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag moet president Cyril Ramaphosa volle aanspreeklikheid aanvaar vir die ontplooiing van soldate in die Demokratiese Republiek die Kongo. Nege SANW-soldate is in die ooste van die DRK dood in gevegte met M23-rebelle wat deur Rwanda ondersteun word. Die soldate was deel van die Verenigde Nasies en Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se vredesendings. COPE sê dis onaanvaarbaar dat die SANW na ʼn gevaarlike konflikgebied gestuur word sonder behoorlike hulpbronne, opleiding en ondersteuning.
# Die DA sit vandag belangrike politieke strategieë uiteen na die vergadering van sy federale raad. Leiers van die raad, John Steenhuisen, Ivan Meyer en Helen Zille sal voorbereidings vir die komende plaaslike regeringsverkiesing en onlangse politieke verwikkelinge toelig. Die raad is die party se hoogste beleidmakende liggaam na die federale kongres en sal belangrike verwikkelings voor die verkiesing uiteen sit. Die DA is ontevrede met hoe die Regering van Nasionale Eenheid funksioneer nadat president Cyril Ramaphosa die Onteieningswet onderteken het sonder om RNE-vennote te raadpleeg. Verskeie ministers en hul adjunkte stamp ook koppe.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, sê die daling van 15,24-persent in padsterftes oor die feestyd getuig van verkeersbeamptes, wetstoepassers en opvoeders oor padveiligheid se toewyding. Van 1 Desember 2024 tot 11 Januarie 2025 het 139 mense hul lewens op die provinsie se paaie verloor en die aantal noodlottige botsings het van 142 tot 123 gedaal. Sileku sê die meeste sterftes was voetgangers, gevolg deur passasiers en dan bestuurders:
# Krieket: Die SA20-voorlopers, Paarl Royals, het die Durban’s Super Giants by Boland Park in die Paarl met ses paaltjies verslaan in hul vyfde agtereenvolgende sege. Dis die eerste keer dat ʼn span alle tuiswedstryde in die kompetisie wen. Met die Super Giants se 143 vir sewe op die telbord, het Rubin Hermann en Lhuan-dre Pretorius se vennootskap van 91 op die tweede paaltjie die Royals se oorwinning beklink en die Super Giants se hoop op die uitspeelrondes verpletter. Die Super Giants-kaptein, Keshav Maharaj, sê hy is trots op sy span:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-279-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-739-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 76-dollar-15-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….