Nuus 08:00
BULLETIN 22 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die bewerings teen minister Macpherson is ongegrond
# Die polisie en Departement van Gesondheid sorg vir die onwettige myners
# En president Trump verdedig sy kwytskelding van die Capitol-betogers
# Die DA het bewerings teen die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, verwerp en sê hy sal nie ophou met sy stryd teen korrupsie nie. Die minister word beskuldig dat hy met die Onafhanklike Ontwikkelingstrust se sake inmeng. Willie Aucamp van die DA sê die bewerings word gemaak terwyl Macpherson ernstige korrupsie ontbloot, ondersoek en stop. Dit sluit in ‘n skandaal van 800-miljoen-rand wat verband hou met ʼn suurstof-tender wat die instelling onregmatig toegeken het:
# Die Algemene Balieraad van Suid-Afrika het destydse bewerings van seksuele misbruik teen advokaat Jeremy Gauntlett vir ondersoek na die Kaapse Balieraad en die Johannesburgse Vereniging van Advokate verwys. Hy word beskuldig dat hy ʼn jong Hylton White seksueel misbruik het. Whyte is tans ʼn senior dosent by die Universiteit van die Witwatersrand. Gauntlett is een van Suid-Afrika se top-advokate en was oudpresident Jacob Zuma se senior raadgewer in die Nkandla-saak by die Konstitusionele Hof. Die Balieraad beskryf die bewerings as uiters ernstig.
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Departement van Gesondheid in Noordwes gee die versekering onwettige mynwerkers in polisie-aanhouding ontvang mediese sorg. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe sê daaglikse inspeksies identifiseer diegene wat behandeling benodig, en teen 21 Januarie het hospitaalopnames van nege tot 32 vermeerder. Mathe sê alle gehospitaliseerde mynwerkers bly onder polisiebewaking. Sy sê owerhede weerlê bewerings van onvoldoende sorg, en beklemtoon hul toewyding om die nodige mediese aandag te verskaf. Sy sê verder samewerking beklemtoon die balans tussen openbare veiligheid en die welsyn van aangehoudenes.
# President Donald Trump het die kwytskelding van sowat eenduisend-500 mense betrokke by die betoging op 6 Januarie 2021 by die Kongresgebou, verdedig en sê hulle lewens is verwoes. Onder die wat vrygelaat is, is die gewese Proud Boys-leier, Henry Tarrio en Oath Keepers se stigter, Stewart Rhodes. Tarrio is skuldig bevind aan opruiende sameswering om die regering omver te werp en tot 22 jaar tronkstraf gevonnis. Trump het die mense wat hy kwytgeskeld het as 6 Januarie-gyselaars beskryf:
# Krieket: Die SA20-kragmeting tussen Durban’s Super Giants en MI Cape Town op Kingsmead is Dinsdag weens reën gestaak. MI Cape Town het 69 vir drie in elf boulbeurte gehaal voor spel weens swaar reën gestaak is. Die wedstryd is uiteindelik afgestel en die punte is gedeel. Wat punte betref is MI Cape Town en Paarl Royals nou gelykop boaan die punteleer en een stap nader aan hul heel eerste uitspeelstryd. Die Super Giants is steeds onderaan die punteleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-797-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-749-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….