Nuus 08:00
BULLETIN 20 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wil hê die Wetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings moet geskrap word
# Die Staatsdiensbedingingsraad wag steeds op ‘n antwoord van die vakbonde
# En TikTok herstel sy diens in die VSA ná Trump se onderneming
# Die DA sê die minister in die Presidensie, Verantwoordelik vir Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, moet die Wetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings skrap. Die wetsontwerp wat Vrydag vir openbare kommentaar vrygestel is, het uit verskeie sektore skerp kritiek ontlok. Kritici voer aan die wetgewing kan die verkope van staatsondernemings fasiliteer en verbeter nie die huidige stand van sake nie. Darren Bergman van die DA sê hulle verwerp die skepping van ‘n mega-staatsonderneming wat ʼn fortuin sal kos om te bestuur:
# Die staatsdiens-bedingingsraad sê hy wag nog vir terugvoer van die staatsdiensvakbonde oor die regering se hersiene salarisaanbod vir die volgende drie jaar. Rolspelers het op 8 Januarie vergader waar die regering sy aanbod vir die 2025/2026-boekjaar van vier-komma-sewe-persent tot vyf-persent verhoog het. Vakbonde wat die land se een-komma-drie-miljoen staatsdienswerkers verteenwoordig, het toe hul eis na ses-persent aangepas. Hulle sê hulle wil die onderhandelings afhandel vóór die minister van Finansies, Enoch Godongwane, se begrotingsrede volgende maand.
# Die Stad Tshwane het dokumente by die Arbeidshof ingedien om ʼn bemiddeling-beslissing om te keer wat bepaal dat vyf geskorste senior amptenare vandag terugkeer werk toe. Die amptenare word betrek by die Rooiwal-watersuiweringsaanleg-tender waarby die omstrede sakepersoon Edwin Sodi ook betrokke is. Die metro-woordvoerder, Lindela Mashigo, sê die hof moet die Suid-Afrikaanse Bedingingsraad vir Plaaslike Regering se beslissing ten gunste van die werknemers hersien en tersydestel:
# TikTok sê hy het begin om sy diens aan sy 170-miljoen gebruikers in Amerika te herstel nadat dit Sondag tydelik en vrywillig gesluit is. Die maatskappy skryf sy terugkeer toe aan gekose president Donald Trump se plan om die toepassing te red. Trump sê nadat hy vandag ingesweer is, sal hy ʼn uitvoerende bevel onderteken wat die Chinese video-toepassing ekstra tyd sal gee om ʼn koper te vind voordat dit heeltemal gesluit word. Hy stel voor Amerika of ʼn Amerikaanse firma koop 50-persent van die maatskappy.
# Tennis: Die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, sê hy verwag Dinsdag ʼn taai stryd teen Carlos Alcaraz in die kwarteindronde by die Australiese Ope. Die Serwiër is ná sy vierde-ronde-sege van 6-3, 6-4, 7-6 teen die Tsjeg, Jiri Lehecka, steeds op dreef om ʼn rekord 25ste Grand Slam-titel op te raap. Alcaraz het deurgedring nadat die Brit, Jack Draper, weens ʼn heupbesering onttrek het. Die Spanjaard het drie van sy sewe wedstryde teen Djokovic gewen. Djokovic sê hy sien na die kragmeting teen Alcaraz:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen18-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-460-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-703-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….