Nuus 08:00
BULLETIN 17 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die Gaza-skietstilstand bring klein maar kritieke verligting
# Die VSA is vol vertroue dat die skietstilstand Sondag in werking sal tree
# En die DA wil hê die Onderwysdepartement se aanlyn registrasiestelsel moet hersien word
# Die EFF sê die tydelike skietstilstand tussen Israel en Hamas is ‘n oorwinning teen Israel se sogenaamde oorlog van uitwissing en sal toelaat dat noodsaaklike hulp die Palestyne bereik. Die skietstilstand wat deur Katar, Egipte en Amerika bemiddel is, sal na verwagting Sondag van krag word. Die EFF-adjunkpresident, Godrich Gardee, sê volgens sy party se mening bied dit ʼn sprankie hoop, maar wis nie die vernietiging in Gaza of die volksmoord-bedoeling agter Israel se optrede uit nie:
Intussen het Israel se kabinet die stemmery oor die tydelike skietstilstand in Gaza en die gyselaarooreenkoms tot Saterdag uitgestel. Eerste minister Benjamin Netanyahu beskuldig Hamas dat hy op die nippertjie sy woord oor dele van die ooreenkoms verbreek en ʼn krisis veroorsaak het. Sedert die skietstilstandooreenkoms aangekondig is, het Israelse aanvalle volgens berigte 86 sterftes veroorsaak en 258 is gewond. Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, sê ʼn probleem is opgelos en hy glo die ooreenkoms in drie fases sal Sondag voortgaan:
# Die DA in Gauteng stel voor die provinsiale Onderwysdepartement se huidige aanlyn-registrasiestelsel moet deeglik opgeknap word om toekomstige inskrywingsprobleme te voorkom. Die party het ʼn oorsigbesoek aan Johannesburg-Oos se distrikskantoor gebring en bevind sommige ouers sukkel om dokumente op die aanlyn-registrasiestelsel te laai. Die party het ook kommer uitgespreek oor die gebrek aan sekondêre skole in Midrand. Sergio Isa Dos Santos van die DA sê die departement moet registrasiesentrums in gemeenskappe beskikbaar stel en dit toerus met gratis internettoegang en ondersteuningspersoneel:
# Krieket: Die SA20-wedstryd op die Wanderers tussen die Joburg Super Kings en Pretoria Capitals is Donderdagaand weens reën afgestel. Die Super Kings het die loot gewen en die Capitals ingestuur om te kolf, waarna die besoekers tot 138 vir agt beperk is. ʼn Stortbui net toe die Super Kings se kolwers na die kolfblad stap, het die skeidsregters egter genoop om die wedstryd af te stel, en die spanne het twee punte elk ontvang. Die Durban Super Giants en Sunrisers Eastern Cape spook vandag sake uit.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-116-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-715-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 80-dollar-68-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….