Nuus 08:00
BULLETIN 16 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verwelkom die tydelike skietstilstand tussen Israel en Hamas
# AfriForum dring aan op regsaksie teen die instelling van NGV
# En Airlink en CemAir verseker hul kliënte dat hulle nie vlugte oorbespreek nie
# Suid-Afrika het die tydelike skietstilstand-ooreenkoms tussen Israel en Hamas verwelkom en sê dis ‘n belangrike eerste stap om die 2,3-miljoen Palestyne se humanitêre krisis in Gaza te beëindig. Die skietstilstand word Sondag van krag en sluit die vrylating in van 33 Israelse gyselaars in ruil vir Palestynse gevangenes in Israelse tronke. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê alle struikelblokke wat humanitêre hulp keer, moet verwyder word:
# AfriForum waarsku die bekragtiging van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering sal beslissende regstappe en openbare druk veroorsaak. Louis Boshoff van AfriForum sê ondanks berigte van ‘n aangepaste NGV-voorlegging hou die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi vol die plan sal onveranderd bly. Hy beskuldig die ANC dat hy verwarring saai en beloof om die NGV se grondwetlikheid uit te daag, en meen die party se ideologiese verbintenis ignoreer finansiële en praktiese kwessies:
# Airlink en CemAir sê hulle oorbespreek nie vlugte soos hul mededinger, FlySafair, nie. Laasgenoemde het die afgelope weke in die spervuur gekom nadat die redery erken het hy oorbespreek vlugte om bekostigbare pryse te handhaaf. CemAir sê kaartjies word slegs volgens die getal sitplekke verkoop en om meer te verkoop kom neer op onetiese sakepraktyke. Hy voeg by FlySafair se bewering dat alle plaaslike lugrederye dit doen, is onwaar.
# Shell Suid-Afrika se Alberton-depot bevorder volhoubaarheid met sonkrag, battery-energieberging en biobrandstof-projekte. Die bestuurder, Fikile Nxumalo, beklemtoon Shell se toewyding om sy koolstofvoetspoor te verklein en hernubare energie te omhels. Nxumalo sê hierdie pogings stem ooreen met Shell se breër reis na volhoubaarheid en toekoms-versekerde bedrywighede. Alberton is een van die ondernemings wat verkoop is, maar hy sal steeds voortgaan om ‘n belangrike rol te speel in Shell se stroomaf-bedrywighede om ononderbroke dienste te verseker.
# Krieket: Die opkomende ster, Lhuan-dre Pretorius, se kolfvernuf het Paarl Royals gehelp om MI Cape Town met ses paaltjies te verslaan en na die derde plek te skuif op die SA20-puntelys. Met Rassie van der Dussen se onoorwonne 91, het MI Cape Town 158 vir vier in hul 20 boulbeurte behaal. Die 18-jarige Pretorius het daarna 83 van 52 balle aangeteken met drie sesse en agt grenshoue, en die tuisspan het hul teiken in 19 boulbeurte bereik. Pretorius sê die toestande was perfek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-314-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-697-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….