Nuus 08:00
BULLETIN 15 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sê hy het hard gewerk om ‘n bemagtigende leeromgewing te skep
# Die DA vra ’n ondersoek na Misdaadintelligensie se luukse hotel
# En krieket: Die Joburg Super Kings en Pretoria Capitals behaal uiters belangrike oorwinnings
# Die regering sê hy het hard gewerk om ‘n goeie leeromgewing te skep. Dit sluit in die uitskakeling van modder-skole, puttoilette en deur klaskamers van goeie gehalte te verskaf. Die Departement van Basiese Onderwys het 31 Maart 2025 as sperdatum gestel waarop alle puttoilette by die land se skole verwyder moet wees. Die Regeringskommunikasie- en Inligtingstelsel se woordvoerder, Kgomotso Ranoto, sê die matriekklas van 2024 het voordeel getrek uit ʼn onderwysstelsel wat meer inklusief is en beter hulpbronne het:
# Die UDM vra dat sistemiese ongelykhede in onderwys aangepak moet word, veral in landelike en township-skole wat worstel met ‘n tekort aan hulpbronnne en die uitdagings met infrastruktuur. Dit volg nadat die party die Klas van 2024 gelukgewens het met ‘n 87,3-persent slaagsyfer en ‘n 47,8-persent hoërgraadse slaagsyfer. Die UDM-lid, Thandi Nontenja, dring aan op die modernisering van die kurrikulum en regverdige ondersteuning vir alle leerders om ekonomiese groei en werksgereedheid te bevorder. Sy is ‘n voorstander vir die oorbrugging van opvoedkundige gapings om ‘n welvarende, regverdige samelewing te bou.
# Die DA het aan die inspekteur-generaal van Intelligensie geskryf en ʼn ondersoek aangevra nadat die polisie se misdaadintelligensie-afdeling ʼn luukse hotel in Pretoria gekoop het. Die intelligensie-afdeling het 22,7-miljoen-rand van sy geheime fondse gebruik om ʼn luukse boetiekhotel met 24 kamers in Pretoria-Noord te koop. Dianne Kohler Barnard van die DA sê dis opvallend dat die aankope nie genoem is toe die polisie in November 2024 aan die parlementêre portefeuljekomitee vir Polisie verslag gedoen het oor sy eiendomsportefeulje nie:
# Die Withuis sê president Joe Biden het die Kongres in kennis gestel hy gaan Kuba van Amerika se lys van staatsborge vir terrorisme haal en ekonomiese beperkings verslap. Gekose president Donald Trump het Kuba se terrorisme-aanwyser in 2021 in die laaste dae van sy eerste presidentskap heringestel en Amerikaanse finansiële hulp en wapenuitvoere na dié land verbied. Kuba sê as deel van die ooreenkoms met die Biden-administrasie, sal hy 553 politieke gevangenes vrylaat wat vir verskeie misdade aangehou word. Trump sal die besluit waarskynlik omkeer.
# Krieket: Pretoria Capitals het hul eerste sege in die SA20-veldtog behaal toe hulle die verdedigende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, met ses paaltjies en ʼn bonuspunt verslaan het. Daryn Dupavillion het twee paaltjies platgetrek en Sunrisers was op 113 almal uit. In antwoord daarop het ʼn onoorwonne vennootskap van 55 lopies tussen Liam Livingstone en Marques Ackerman die Capitals se oorwinning verseker. In Durban is die Joburg Super Kings steeds onoorwonne na hul 28-lopie-sege oor Durban se Super Giants. JSK se kaptein, Faf du Plessis, sê dit was ʼn moeilike paaltjie om punte aan te teken:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-991-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-673-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….