Nuus 08:00
BULLETIN 11 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê die ANC-herdenking is ‘n geleentheid om te besin
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die regering om dringend vervolging vir alle statutêre verkragtingsake in te stel
# En, SA Rugby maak geskiedenis met die aanstelling van Laurian Johannes-Haupt
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die herdenking van die party se 113de bestaansjaar is ‘n geleentheid om te besin oor sy geskiedenis, prestasies en terugslae. Hy het Vrydagaand die hoofrede gelewer by die party se presidensiële galadinee in Kaapstad, in aanloop tot die 8 Januarie-verklaring vandag. Ramaphosa sê die herdenking is ook ‘n geleentheid om te kyk na die optrede wat nodig is om die stryd vir ‘n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en welvarende Suid-Afrika te bevorder:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê dit is kommerwekkend dat ten spyte van progressiewe wetgewing die plaag van tienerswangerskappe in die land steeds floreer. Volgens statistiek het meer as 122-duisend tieners die afgelope boekjaar baba’s gekry, met twee-duisend-716 van hulle wat tussen tien en 14-jaar oud is. Tagtig tienermeisies het op die eerste Januarie vanjaar geboorte geskenk. Die vakbond sê mense wat hierdie swangerskappe probeer verberg deur gesprekke tussen families te fasiliteer, moet ondersoek en vervolg word, ongeag hul status in die gemeenskap.
# Die DA het sy oproep vir landelike veiligheidseenhede hernu ná ‘n gewelddadige plaasaanval op die Vos-gesin in Musina, Limpopo. Die gesin, insluitend hul drie kinders, is gemartel en beseer, en is in die hospitaal opgeneem. Die party het ook ‘n beroep op meer polisiereserviste gedoen om landelike veiligheid te verbeter. Die party het die polisie en plaaswagte geprys vir hul vinnige reaksie, maar die DA-lid, Marie Helm versoek die polisie om sy pogings te verskerp ten einde die verdagtes in hegtenis te neem:
# Die styging in werksgeleenthede in Desember in Amerika het verwagtinge oortref, ‘n teken dat die arbeidsmark gesond is voor die aangewese president, Donald Trump oor twee weke ingehuldig word. Nuwe poste in die wêreld se grootste ekonomie was verlede maand 256-duisend, vergeleke met ‘n aangepaste 212-duisend in November. Die syfer vir Desember was aansienlik meer as die markverwagte skatting van 154-duisend. Die werkloosheidskoers het intussen van 4,2-persent tot 4,1-persent gedaal. Die onverwagse toename in nuwe werk kan daartoe lei dat die Federale Reserweraad vanjaar nie so geredelik rentekoerse verlaag nie, aangesien amptenare sal werk om inflasie volhoubaar af te bring.
# Rugby: Die voormalige hoofafrigter van die Junior Springbok Vrouespan, Laurian Johannes-Haupt, is nou voltyds by SA Rugby as die Springbok Vroue se hulpafrigter. Sy is die eerste voltydse vroue-rugbyafrigter wat by ‘n nasionale span in die organisasie betrokke is. Die 40-jarige het die Springbok Vrouespan by die 2010 Rugby Wêreldbeker verteenwoordig en in 12 toetse gespeel voordat sy in 2014 uitgetree het. Johannes-Haupt sê sy is gretig om die vrouespel verder te laat groei, en meen sy sal dit nou makliker kan doen:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….