Nuus 08:00
BULLETIN 8 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die regering sal voortgaan om die gebrek aan dienslewering in die Wes-Kaap aan te spreek
# Wayne Duvenage sê munisipaliteite kort finansiële dissipline en leierskap
# En Los Angeles verklaar ‘n noodtoestand weens snelbewegende veldbrande
# Die ANC se adjunkpresident Paul Mashatile sê die nasionale regering sal voortgaan om gebrekkige dienslewering in die Wes-Kaap aan te spreek omdat baie gemeenskappe volgens hom nie hulp van die provinsiale regering kry nie. Mashatile het gister tydens die party se deur-tot-deur-veldtog in Khayelitsha, Kaapstad gepraat in aanloop tot die 8 Januarie-verklaring as deel van sy program om sy 113de bestaansjaar te vier. Hy sê die DA skeep inwoners in die provinsie af:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê Suid-Afrikaanse munisipaliteite het nie ‘n tekort aan befondsing nie, maar aan finansiële dissipline en doeltreffende bestuur. In ʼn artikel in die Daily Maverick voer hy aan dat munisipaliteite nie te min befondsing het nie. In 2010 was munisipaliteite se gesamentlike inkomste sowat 154-miljard-rand wat teen 2024 tot 517-miljard-rand opgeskiet het. Dis ʼn gemiddelde jaarlikse verhoging van nege-persent. Duvenage sê die regering moet oorsig en aanspreeklikheid in munisipaliteite verbeter, leierskap versterk en personeel en ander onkoste beheer.
# KwaZulu-Natal se LUR vir Vervoer, Siboniso Duma, sê die vragmotorbestuurder wat Maandag betrokke was in die noodlottige kettingbotsing op die N3 op Van Reenenspas, is geïdentifiseer. Hy is ʼn 37-jarige Zimbabwiese burger. Die sterftesyfer is van 18 tot 17 aangepas en daar was net een oorlewende. Die departement se woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, sê volgens die voorlopige ondersoek, het die minibusbestuurder beheer verloor, in die regterbaan voor aankomende verkeer beland en teen die vragmotor gebots:
# Die Amerikaanse stad Los Angeles het ʼn noodtoestand afgekondig terwyl ʼn veldbrand wat deur sterk wind aangedryf word, owerhede genoop het om meer as 30-duisend inwoners te vra om hul wonings te ontruim. Talle huise in die Pacific Palisades-gebied is beskadig, maar geen beserings of sterftes is aangemeld nie. Die Withuis sê president Joe Biden het ʼn brandbestuur-hulptoelaag goedgekeur om die betrokke gemeenskappe te ondersteun. Die Los Angeles-distrik se brandweerhoof, Anthony Marrone, sê die brand kan deur die dag erger word:
# Krieket: Engeland se toetskaptein, Ben Stokes, het nog ʼn dyspier-operasie ondergaan en sal minstens drie maande op die krukkelys wees. Die 33-jarige Stokes het verlede jaar in Desember sy linker-dyspier geskeur in Engeland se laaste toets in Nieu-Seeland. Hy het dieselfde dyspier verlede Augustus in The Hundred geskeur waarna hy vier agtereenvolgende toetswedstryde misgeloop het: drie tuis teen Sri Lanka en een in Pakistan. Die jongste operasie beteken Stokes sal nie volgende maand aan die IKR-kampioenskapstrofee deelneem nie.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-626-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-667-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 77-dollar-3-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….