Nuus 08:00
BULLETIN 5 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê nog drie-duisend-760 megawatt sal na verwagting Maandag weer aanlyn wees
# Die ANC vra positiewe oplossings vir veranderings aan die Gemeenskapswerkprogram
# En Krieket: ‘n Droomdag op Nuweland met die Proteas wat Pakistan oorheers
# Eskom sê hy is steeds op koers om in die aanvraag na elektrisiteit te voldoen en ‘n bykomende drie-duisend-760 megawatt sal na verwagting teen Maandagaand weer aanlyn wees. Die waarnemende woordvoerder, Aubrey Sambo, sê die onbeplande verlies aan kapasiteit is tot dusver op 24,94-persent vir die finansiële jaar, maar het vanaf 32,93-persent in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar verbeter. Hy sê dit verteenwoordig ‘n verbetering van 8,1-persent vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar:
# Die ANC doen ‘n beroep op die regering om ‘n positiewe oplossing te vind wat nie die meer as 65-duisend begunstigdes van die Gemeenskapswerkprogram sal benadeel nie. Die regering het aangekondig die kontrakte vir deelnemers van 55 en ouer sal op 31 Januarie ten einde loop. Die ANC se woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê die program is lank reeds die hoeksteen van die regering se pogings om werkloosheid en armoede aan te spreek deur’n noodsaaklike veiligheidsnet te voorsien vir werklose Suid-Afrikaners van ‘n werkende ouderdom:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum verwelkom die Zimbabwiese president, Emmerson Mnangagwa se ondertekening van die Wet op die Afskaffing van die Doodstraf wat onmiddellik in werking tree. Die forum se president, Marothi Mashashane sê Zimbabwe sluit aan by 24 lande in Afrika suid van die Sahara wat reeds die doodstraf vir alle misdade opgeskort het, met twee bykomende lande wat dit net vir gewone misdade opgeskort het. Hy sê die doodstraf is nie deel van die Afrika-kultuur nie, en is tydens die koloniale era na die vasteland gebring.
‘n Regter het gelas dat Donald Trump op 10 Januarie in New York gevonnis sal word in sy swyggeld-saak, minder as twee weke voor hy as president ingehuldig word. New York regter Juan Merchan het te kenne gegee hy sal Trump geen tronkstraf, borgtog of ‘n boete gee nie, maar in plaas daarvan onvoorwaardelik vrylaat. Trump het probeer om sy presidensiële verkiesingsoorwinning te gebruik om die saak teen hom te laat uitgooi. Hy is tans die eerste veroordeelde misdadiger om in die Withuis te dien.
# En krieket: Na nog ‘n droomdag op Nuweland is die Proteas steeds stewig in beheer teen Pakistan. Die besoekers was teen uitskeityd op die tweede dag van die tweede toets op 64 vir drie, ‘n reuse agterstand van 551 na Suid-Afrika se eerste beurt-telling van 615 lopies. Ryan Rickelton het 259 lopies aangeteken, die sewende hoogste toetstelling ooit deur ‘n Suid-Afrikaner. Dit was ook die eerste keer sedert 2021 teen Sri Lanka op Centurion dat die Proteas ‘n telling van 600 of meer kon aanteken. Mohammad Azam en Mohammad Rizwan sal vanoggend spel vir Pakistan hervat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….