Nuus 08:00
BULLETIN 26 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Artsbiskop Thabo Makgoba sê politici moet in 2025 effens terugstaan
# ‘n Onderwysaktivis bepleit bemiddeling in die regsgeskil oor matriekuitslae
# En, krieket: ‘n Plek in die eindstryd van Wêreldtoetskampioenskap is op die spel vir Suid-Afrika in reeks teen Pakistan
# Aartsbiskop Thabo Makgoba sê 2025 kan ‘n jaar van transformasie in Suid-Afrka word as politici op die agtergrond bly en gemarginaliseerde stemme, soos werkloses, toelaat om vir hulleself te praat. Die aartsbiskop het by middernagmis in die St Georgeskatedraal in Kaapstad gesê die dringendste kwessie vir nasionale dialoog is om die krisis aan te spreek waarmee jong Suid-Afrikaners te doen het. Makgoba sê die Ramaphosa-administrasie het op talle maniere nie aan verwagtinge voldoen nie. Hy voeg by die regering van nasionale eenheid sal dieselfde pad stap as politici aanhou om in die verlede te leef.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta is besorg oor die regsgeskil tussen die Departement van Basiese Onderwys en die Inligtingsreguleerder oor die publikasie van 2024 se matriekuitslae. Hy vra bemiddeling om die geskil oor privaatheid en deursigtigheid by te lê en wys op die behoefte aan ‘n gebalanseerde benadering. Makaneta benadruk die huidige spanning kan leerders en die breër onderwyssektor nadelig raak:
# Die Stad Tshwane het sy feestyd-bonanza afgeskop en bied aan agterstallige kliënte tot 100-persent rentevrye afskrywings vir rekeninge wat teen Oujaarsaand betaal word. Woordvoerder Lindela Mashigo sê gedeeltelike betalings met reëlings vir tot 24 maande kwalifiseer vir 50-persent renteverligting. Hy vra inwoners om aangewese kliëntesorgsentrums te besoek omdat voldoening die afskrywingspersentasie ‘n hupstoot gee:
# Daar is kinders onder die 29 mense wat lewendig gered is uit die wrak van ‘n passasiersvliegtuig wat op Kersdag in Kazakstan neergestort. Die owerhede sê 38 van die 67 mense aan boord is in die ongeluk dood. Volgens die redery het die vliegtuig aan die brand geslaan terwyl dit ‘n noodlanding probeer maak het naby die Kazakstaanse stad Aktau. Die vliegtuig was op pad na Grozny in Rusland maar moet weens digte mis van rigting verander. Onbevestigde berigte deur die Russiese media sê die vliegtuig kon dalk voor die neerstorting in ‘n swerm voëls vasgevlieg het.
# En, krieket: ‘n Plek in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap is vir die Proteas op die spel in die reeks van twee toetse teen Pakistan wat vandag in Centurion begin. ʼn Reeksoorwinning sal Suid-Afrika die geleentheid bied om in Junie in Londen in die eindstryd te speel, terwyl een oorwinning reeds hulle kanse ʼn hupstoot sal gee. Die tweede toets begin volgende Vrydag in Kaapstad. Die enigste ander twee spanne wat die eindstryd kan haal, Australië en Indië, speel van vandag af in die vierde toets in Melbourne.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….