Nuus 08:00
BULLETIN 24 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inligtingsreguleerder reik ‘n 5-miljoen-rand oortredingskennisgewing aan Basiese Onderwys uit
# Die UDM is bekommerd oor toenemende motorongelukke en geslagsgeweld
# En, stormweer sal deel wees van sommige feestelike bedrywighede in Suid-Afrika
# Die Inligtingsreguleerder het ‘n Oortredingskennisgewing aan die Departement van Basiese Onderwys uitgereik waarin hy die departement beveel om ‘n administratiewe boete van 5-miljoen-rand te betaal omdat hy versuim het om gehoor te gee aan ‘n Afdwingingskennisgewing van 18 November 2024. Die kennisgewing verbied die publikasie van 2024-matriekuitslae in koerante, wat die departement nie nagekom het nie. Daar was ‘n geleentheid om te appelleer maar die departement het teen die sperdatum nog nie gereageer nie. Volgens die reguleerder moet die boete binne 30 dae vanaf 23 Desember 2024 betaal word.
# Die UDM is bekommerd oor die styging in motorongelukke en gevalle van geslagsgeweld sedert die begin van die maand. Padsterftes het met drie-persent toegeneem, en voetgangers maak 49-persent van die sterftes uit. Berigte op sosiale media oor toenemende gevalle van geslagsgeweld laat kommer verder verdiep. Waarnemende sekretaris-generaal Zandile Phiri sê die UDM moedig Suid-Afrikaners aan om versigtig te bestuur, op te tree teen geslagsgeweld, en ‘n veiliger gemeenskap te help bou.
# Bykans ‘n driekwart van Oekraïners steun die idee dat Oekraïne sy kernwapens weer in gebruik neem. Kiëf se Internasionale Instituut vir Sosiologie het van 2 tot 17 Desember in ‘n meningsopname twee-duisend inwoners in gebiede onder Oekraïnse beheer ondervra. Nagenoeg die helfte van hulle sê hulle sal die ontwikkelling van kernwapens steun, selfs al sou hulle hul Westerse hulp verloor en sanksies ingestel word. ‘n Woordvoerder vir die ministerie van Buitelandse Sake het verlede maand gesê Kiëf besit of ontwikkel nié kernwapens nie en beplan nie om dit aan te skaf nie
# Rugby: Sacha Feinberg-Mngomezulu was Maandag by die Stormers se oefening en sal na verwagting Saterdag vir die Verenigde Rugby-kampioenskap-derby teen die Haaie op die Kaapstad-stadion beskikbaar wees. Die Springbok het verlede naweek in die Stormers se sege van 29-10 oor die Leeus van die veld af gehink met wat later as ‘n heupbesering gediagnoseer is. Die Stormers sal vandag oefen, maar môre en Welwillendheidsdag af wees voor Vrydag se kapteinsoefening. Die span vir die Haaie-wedstryd word Vrydag aangekondig. Meer as 30-duisend kaartjies is reeds vir die wedstryd verkoop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-034-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-619-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-62-sent per vat.
# En ter afsluiting: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê hy verwag steeds skadelike wind en kitsvloede in dele van Suid-Afrika op verskeie van die oorblywende dae van die jaar. Weervoorspeller, Samkelisiwe Twala, sê daar is ‘n 60-persent kans op buie en donderbuie vandag in Mpumalanga en die Vrystaat, met’n 80-persent moontlikheid in Limpopo, Gauteng en KwaZulu-Natal, wat gepaard kan gaan met ontwrigtende reën en plaaslike vloede. Die suidwestelike binneland sal egter mooiweer en warm wees:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….