Nuus 08:00
BULLETIN 19 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC gaan tugstappe teen Mchunu en Gigaba doen
# ‘n Voormalige raadslid van die Nasionale Loterykommissie moet meer as 21-miljoen-rand terugbetaal
# En Donald Trump sê ‘n ontmoeting tussen Putin en Zelensky is ’n sterk moontlikheid
# Die ANC sê hy gaan tugstappe doen teen sy senior lede, Malusi Gigaba en Senzo Mchunu, ná hul onlangse opmerkings. Gigaba het in ‘n onderhoud wat in die Sunday Times verskyn het, gesê die party se nasionale uitvoerende komitee het nie sy doelwitte bereik nie. Die geskorste minister van Polisie, Mchunu, het die naweek in KwaZulu-Natal gesê die ANC is op die rand van ineenstorting. Die party sê Gigaba en Mchunu se optrede is ʼn blatante skending van die ANC se interne kommunikasieprotokolle en ondermyn die beweging se basiese dissipline.
# Die Spesiale Tribunaal het ʼn gewese raadslid van die Nasionale Loterykommissie, advokaat William Huma, beveel om meer as 21-miljoen-rand se misbruikte toelaes vir sy bondgenote en familie verbind word, terug te betaal. Die fondse is toegeken aan opheffingsprojekte in gemeenskappe, onder meer ʼn hoenderboerdery-inisiatief in Marikana, Noordwes. Die Spesiale Ondersoekeenheid het bevind die fondse is wanaangewend deur Silverlite Trading, waarvan Huma die enigste direkteur is. Die tribunaal het ook ʼn toelaag van 4,6-miljoen-rand aan Reagile NPC, wat deur Huma se vrou en neef beheer word, tersyde gestel.
# Die DA in Gauteng doen ‘n beroep op die LUR vir Infrastruktuurontwikkeling, Jacob Mamabolo, om seker te maak dat die Johannesburg-Suid Forensiese Patologielaboratorium oopmaak om die publiek te dien. Dit volg nadat Mamabolo ‘n ondersoek van stapel gestuur het na die fasiliteit wat steeds nie oop is nie, en die belastingbetaler alreeds 700-mijoen-rand gekos het. Inwoners wag al jare vir lykskouings, nadoodse ondersoeke en toksikologieverslae. Madeleine Hicklin van die DA sê families verdien tydige toegang tot hierdie kritieke forensiese dienste:
# President Donald Trump van Amerika sê hy het begin om ʼn ontmoeting tussen sy Russiese ampsgenoot, Vladimir Putin, en die Oekraïnse leier, Volodymyr Zelensky, te reël. Trump het gister met Zelensky en ʼn paar Europese leiers by die Withuis beraadslaag. Die Kremlin het die voorstel vir ʼn ontmoeting tussen Putin en Zelensky herhaaldelik verwerp. Trump sê dis nie nodig vir ʼn skietstilstand voordat onderhandelings plaasvind om die oorlog te beëindig nie:
# Sokker: Bafana Bafana is uitgeskakel by die Afrikanasies-kampioenskap na ʼn gelykopwedstryd van drie elk teen Uganda in Kampala. Doele deur Ramahlwe Mphahlele, Thabiso Kutumela en Ndabayithethwa Ndlondlo het Suid-Afrika ʼn 3-1-voorsprong besorg, maar hulle moes laat twee strafskoppe afstaan. Uganda is die wenners in Groep C, terwyl Algerië en Suid-Afrika albei ses punte het. Bafana Bafana het egter uitgeval wat doelskoppe betref. Bafana se afrigter, Molefi Ntseki, sê hy is trots op die spelers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-414-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….