Nuus 08:00
BULLETIN 27 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die hoof van IDAC se versoek om te bedank beklemtoon die behoefte aan ‘n onafhanklike teen-korrupsieliggaam
# Meer as 300 duisend mense word gedwing om te vlug weens die veldbrande in Frankryk en Spanje
# En, Span SA wen nog drie medaljes by die Statebondspele
# Die DA sê die hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, se versoek om met onmiddellike ingang te bedank, kom te midde van ernstige vrae wat by die Madlanga-kommissie geopper is. Johnson se getuienis voor die kommissie het verlede week onder die loep gekom. Glynnis Breytenbach van die DA sê openbare vertroue in instellings wat korrupsie moet bekamp, berus op deursigtigheid, aanspreeklikheid en die gewilligheid van diegene wat met openbare verantwoordelikhede vertrou word, om aan die hoogste standaarde te voldoen:
# Die regering het kommer uitgespreek oor voorvalle waar buitelanders en ondernemings aan ongemagtigde identiteitskontrole onderwerp word deur individue wat valslik beweer hulle is van die Departement van Binnelandse Sake. Geïntegreerde operasies waarby die polisie, Grensbestuursowerheid, die Departement van Binnelandse Sake, die Valke en ander wetstoepassingsagentskappe betrokke is, gaan voort om misdaadnetwerke te teiken wat migrasie-kwessies uitbuit. Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê dié wat betrokke is by intimidasie, afpersing en ander onwettige aktiwiteite, sal met die volle mag van die wet te doen kry:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê dis nie die polisie se basiese verantwoordelikheid om immigrasiewette af te dwing nie. Hulle werk egter saam met die betrokke departemente om wetstoepassing te ondersteun. Wetstoepassingsowerhede het tot op hede 354 inhegtenisnemings en vervolgings geregistreer wat met migrasie verband hou. Cachalia sê daar is geen bykomende opleidingsvereistes vir polisiebeamptes om immigrasiewette toe te pas nie:
# Meer as 300-duisend mense in Frankryk en Spanje moes weens veldbrande hul huise ontruim, terwyl brandbestryders sukkel om verwoestende brande te beheer, met temperature wat na verwagting hierdie week weer sal styg. Brande het die Gironde-streek verwoes en na die land se wynstreek in Bordeaux versprei. Byna 220-duisend mense moes verskeie dorpe verlaat in die land se grootste ontruiming sedert die Tweede Wêreldoorlog. In Spanje is minstens een persoon in die siedende veldbrande dood, met meer as 100-duisend mense wat uit die streke rondom Madrid en Ávila ontruim is.
# Statebondspele: Die Suid-Afrikaner Pieter Coetze het na sy prestasies in die 50-meter, nog ‘n goue medalje en ‘n Spelerekord ingepalm, die keer in die 200-meter. Sy wentyd was een-minuut-54,22-sekondes, met die Engelse swemmers Oliver Morgan en Luke Greenbank onderskeidelik tweede en derde. Aimee Canny het silwer in die vroue 100-meter borsslag gewen, met ‘n bronsmedalje vir Olivia Nel in die vroue 100-meter rugslag. In netbal het Suid-Afrika twee oorwinnings uit twee wedstryde behaal met ‘n oortuigende sege van 96-42 oor Tonga. Suid-Afrika het nou reeds nege medaljes gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-213-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-89-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….