Nuus 08:00
BULLETIN 13 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Appèlhof beveel Bathabile Dlamini om meer as twee-miljoen-rand terug te betaal
# Meer as twee-duisend EFF-lede is gereed om die party se nuwe leiers te verkies
# En nege is beseer ná ‘n ontploffing by Eskom se Matla-kragstasie
# Die Appèlhof het die gewese minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini, opdrag gegee om twee-miljoen-rand aan die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid terug te betaal. Sy het in 2013 privaat sekuriteit vir haarself, haar destydse woordvoerder Lumka Oliphant en hulle kinders verkry. Volgens hofdokumente beweer Dlamini sy en Oliphant is gedreig nadat Sassa in 2012 betalings aan vals begunstigdes gestaak het. Regter David Unterhalter het in sy uitspraak gesê die verkryging van die Durbanse sekerheidsmaatskappy, Vuco Security, se dienste was onwettig.
# Die EFF sê hy is gereed vir sy derde Nasionale Volksvergadering wat oor die volgende drie dae by Nasrec, Johannesburg, plaasvind. Sowat twee-duisend-500 lede sal na verwagting vanjaar se konferensie bywoon. Hulle sal nuwe leiers kies, politieke en organisatoriese verslae voorlê en seker beleid hersien. Hulle sal ook ‘n nuwe vyfjaar-aksieplan vir die party aanvaar. Die party se sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, sê hulle wil hulself herorganiseer in gemeenskappe:
# Eskom sê eenheid vyf by die Matla-kragstasie in Mpumalanga is as voorsorgmaatreël afgeskakel nadat ʼn transformator gisteraand ontplof het. Die ontploffing het eenheid ses geraak. Volgens voorlopige verslae is nege werkers beseer waarvan een se toestand ernstig is. Die Eskom se groephoof vir opwekking, Bheki Nxumalo, sê noodprotokol is geaktiveer en tegniese spanne sal vandag voortgaan om die situasie te monitor. Hy sê beurtkrag bly opgeskort.
# NAVO se hoofsekretaris, Mark Rutte, het lede gevra om weens Rusland en China se bedreiging ʼn oorlogsingesteldheid aan te neem en meer aan verdediging te bestee. NAVO-lede se huidige besteding op verdediging is twee-persent van hulle ekonomieë se waarde. Rusland se totale militêre besteding sal in 2025 sewe- tot agt-persent van sy bruto binnelandse produk wees. Intussen brei China sy verkryging van moderne wapenstelsels en toerusting vyf tot ses keer vinniger uit as Amerika. Rutte sê dit vereis politieke leierskap om voorkeur te gee aan verdediging:
# Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het vyf-miljoen-rand aan die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging voorgeskiet om te verseker spelers ontvang hul salarisse voor die feestyd. Volgens minister Gayton McKenzie word die voorskot van SAFA se toekenning vir volgende jaar afgetrek om te verseker spelers word vergoed vir hul prestasies, insluitend Bafana Bafana se kwalifisering vir die Afrikabeker en Banyana Banyana se suksesse. SAFA het ingestem om ‘n finansiële omkeerplan voor te lê na tekorte met borgskappe en laat betalings deur vennote.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-674-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-688-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….