Nuus 08:00
BULLETIN 11 Desember 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SAKP sal sy strategie vir die plaaslike regeringsverkiesing by sy kongres finaliseer
# ACSA sê meer as 400 vlugte is deur die brandstofontwrigting geraak
# En swem: Rebecca Meder laat spat ‘n 16 jaar oue Afrika-rekord in Boedapest
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sê hy sal by sy komende nasionale kongres ‘n strategie finaliseer om in 2026 aan die verkiesing vir plaaslike regering deel te neem. Die party sê in sy besprekingsdokumente hy sal fokus op progressiewe, linkse beleide soos ʼn basiese inkomste-toelae en die uitbreiding van openbare indiensnemingsprogramme. Hy sê hy wil sosialistiese beginsels in plaaslike regering bevorder terwyl hy in vennootskap bly met die ANC en Cosatu. Die SAKP se vyfde spesiale nasionale kongres begin môre in Boksburg.
# Die Suid-Afrikaanse lughawemaatskappy, ACSA, sê Maandag se vier uur lange brandstof-onderbreking by die OR Tambo Internasionale Lughawe het 483 vlugte en 49-duisend-429 passasiers geraak. Boonop is 31 vlugte vir die dag gekanselleer. Die probleem is veroorsaak deur ʼn dryfas wat gebreek en gekeer het dat brandstof van opgaartenks na die laaiblad gepomp word sodat die vliegtuie volgemaak kan word. ACSA se uitvoerende hoof, Mpumi Mpofu, het aan Newzroom Afrika gesê ʼn nood-klepvervanging sal die komponent se betroubaarheid verseker:
# Gauteng se LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, deel vandag die jongste inligting oor die departement se gereedheid in aanloop tot die feestyd. Die planne se tema is: Bo en behalwe plig – Reageer op noodgevalle, red lewens. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die LUR sal die gereedheid om op die verwagte hoë aantal noodgevalle te reageer, verduidelik:
# Die verdagte in die moord op die uitvoerende hoof van UnitedHealthcare CEO Brian Thompson beveg sy uitlewering aan New York. Luigi Mangione is Maandag in hegtenis geneem by ‘n McDonald’s-restaurant in Altoona, Pennsylvania, in verband met Thompson se moord buite ‘n hotel in Manhattan. Die 26-jarige is deur aanklaers in New York aangekla van tweedegraadse moord, vervalsing en drie vuurwapen-oortredings. Hy is gister borgtog geweier toe hy in ‘ n hof in Pennsilvanië verskyn het. Mangione se prokureur, Thomas Dickey, sê hy het nog geen bewys gesien dat amptenare van New York die regte man aangekeer het nie.
# Swem: Die 22-jarige Rebecca Meder het die Afrika-rekord vir die 200-meter individuele wisselslag by die Wêreld-kortbad-swemkampioenskap in Boedapest verbeter. Die Suid-Afrikaner het sesde geëindig in die finaal, in ʼn tyd van twee-minute-5,61-sekondes. Die vorige rekord van twee-minute-6,3-sekondes wat Kirsty Coventry van Zimbabwe in 2008 opgestel het, het meer as 16 jaar gestaan. Ruard van Renen is deur na die mans se 100-meter rugslag-finaal nadat hy vierde gekom het in sy uitdun. Chad le Clos kon nie verder kom as die 50-meter vlinderslag se uitdunne nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 18-rand-71-sent teen die euro en 22-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-335–dollars-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-699-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 72-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….