Nuus 08:00
BULLETIN 18 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Tebogo Malaka beweer sy is mislei in die omkopery-skandaal
# Numsa sê die ANC bied geen oplossings vir die werkersklas nie
# En Netanyahu kritiseer die landswye betogings in Israel
# Die geskorste uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka, ontken die Daily Maverick-joernalis, Pieter-Louis Myburgh, se bewerings van omkopery. Sy en die trust se woordvoerder, Phasha Makgolane, is op kamera betrap waar hulle die joernalis omkoopgeld van 60-duisend-rand aanbied om die ondersoek na Malaka te staak. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n strafregtelike saak teen die twee aanhangig gemaak. Malaka het aan eNCA gesê sy is in ʼn lokval gelei:
# Die vakbond Numsa sê die ANC is ʼn kapitalistiese staat wat die eiendom en wins van die oorheersende minderheid beskerm. Die vakbond sê die Marikana-slagting sou nooit plaasgevind het as die ANC-regering verbind was om die land se ekonomie tot voordeel van die werkersklas te hervorm nie. Numsa-woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê slegs ʼn sosialistiese staat wat vir die werkersklas omgee, kan volgens hom ware gelykheid en vryheid vir almal verseker:
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het bepaal dat die Matjhabeng-munisipaliteit in die Vrystaat nie in 2023/2024 en 2024/2025 fondse van die Uitgebreide-openbarewerkeprogram verkwis het nie. Dit volg ná ʼn ondersoek na bewerings dat die program in die munisipaliteit gebruik is om salarisse van gewese raadslede en sittende politieke amptenare te verhoog. Die minister het befondsing vir die program se projekte gevries nadat die bewerings aan die lig gekom het. Macpherson sê die ondersoek het bevestig alle geïntegreerde toelaes is op goedgekeurde projekte bestee.
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu het gister se betogings veroordeel en sê dit versterk Hamas se posisie en belemmer die gyselaars se vrylating. Duisende Israeli’s het aan landwye betogings deelgeneem met die grootste skare in Tel Aviv se Gyselaarplein. Hulle vra ʼn einde aan die Gaza-oorlog en ʼn ooreenkoms dat Hamas die res van die gyselaars vrylaat. Die betogers het ook die regering se planne veroordeel om beheer oor Gazastad te neem en sê dit stel die lewens van die sowat 20 gyselaars in gevaar.
# Motorsport: Die sesmalige MotoGP-kampioen, Marc Márquez, het die Oostenrykse Grand Prix gewen in sy eerste oorwinning in die Red Bull Ring. Die Ducati-ryer het die voorloper Marco Bezzecchi in die 20ste ronde verbygesteek en sy sesde agtereenvolgende sege van die seisoen behaal. Die nuweling Fermin Aldeguer is tweede en Bezzecchi derde. Die Suid-Afrikaner Brad Binder is sewende. Márquez, wat ʼn voorsprong van 142 punte bo sy broer, Alex, in die kampioenskap het, sê hy is tevrede met die oorwinning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-431-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-346-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….