Nuus 08:00
BULLETIN 23 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC bevestig voormalige president Jacob Zuma is uit die party geskop
# Giwusa eis hoër lone en ekonomiese herstel vir die bekamping van ongelykheid
# En atletiek: Die nuwe Ultimate-kampioenskap word beskryf as ‘n reuse-omwenteling vir veld- en baanatlete
# Die nasionale dissiplinêre appèlkomitee van die ANC het die besluit van die nasionale dissiplinêre komitee bevestig om Jacob Zuma uit die party te skop. Die nasionale woordvoerder , Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê as ‘n voormalige president van die ANC is daar van Zuma verwag om die aan hoogste standaarde van leierskap te voldoen. Deur ‘n mededingende politieke party te vestig en te lei, het hy die eenheid en samehorigheid van die beweging ondermyn. Bhengu-Motsiri sê die besluit dien as ‘n herinnering dat geen indiwidu groter as die beweging is nie, en dat die party se krag lê in sy leierskap en verbintenis tot die aspirasies van die mense:
# Giwusa eis hoër lone en die herstel van die ekonomie om toenemende ongelykheid aan te pak. Die vakbond verwelkom die daling in inflasie en die rentekoersverlaging, maar sê hierdie maatreëls bied sukkelende werkers min verligting. Koketso Phasha van Giwusa vra ‘n leefbare minimum loon van 15-duisend-rand, sowel as die regulering van voedselpryse en werkskepping deur middel van openbare werke en landbouprojekte:
# ’n Afvaardiging wat die Spesiale Ondersoekeenheid insluit, dring aan op verbeterde wetgewing om verklikkers te beskerm terwyl Suid-Afrika die Internasionale Bedrog- en Korrupsie-bewusmakingsweek gedenk. Die inisiatief bevorder wêreldwyd opvoeding teen bedrog. Woordvoerder van die Suider-Afrikaanse Instituut vir Staatsouditeure, Kgothatso Maoko, het die afvaardiging by UNISA toegespreek en beklemtoon groter pogings is nodig om bedrog doeltreffend te bekamp en verklikkers te beskerm:
# Die parkeerterrein by Ysland se wêreldbekende Blue Lagoon is deur lawa verswelg, nadat ‘n nabygeleë vulkaan die sewende keer in minder as ‘n jaar uitgebars het. Hotelgaste en nabygeleë huise is ontruim maar volgens owerhede is daar geen bedreiging vir lugvaart in die streek nie. Daar was vir 800 jaar voor 2021 geen vulkaniese aktiwiteit in die Reykjanes-skiereiland nie. Seismoloë sê ‘n foutlyn wat reeds lank dormant onder die landskap lê, is nou aktief. Volgens meteoroloë is die jongste uitbarsting kleiner as die vorige een in Augustus.
# En atletiek: Die president van Wêreldatletiek, Sebastian Coe, beskryf die nuwe Ultimate-kampioenskap as ‘n reuse-omwenteling vir baan- en veldatlete. Die eerste spankompetisie gaan in September 2026 in die Hongaarse hoofstad, Boedapest, gehou word, en daarna elke tweede jaar. Dit word gedoen om die wêreldliggaam se droom te verwesenlik om elke jaar ‘n globale kampioenskap aan te bied, en sal plaasvind in die jaar wat daar nie ‘n Wêreldkampioenskap is nie. Coe sê kampioenskap sal rekord-prysgeld van 180-miljoen-rand hê.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….