Nuus 08:00
BULLETIN 26 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vervolgingsgesag sê Matlala se pleitooreenkoms sal nie sy ander strafregtelike sake beïnvloed nie
# Drie vermeende Rolex-bendelede is dood in ‘n skietgeveg met die polisie in Johannesburg
# En motorsport: Die naweek se Oostenrykse Grand Prix is tot ‘n hittegevaar verklaar
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die pleitooreenkoms met die vermeende misdaad-baasbrein, Vusumuzi “Cat” Matlala, raak nie enige van die ander strafregtelike sake teen hom nie. Hy het skuldig gepleit op aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met die omstrede tender van 228-miljoen-rand wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan sy maatskappy, Medicare24, toegeken het. Die NVG-woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê Matlala en sy vrou sal steeds teregstaan op aanklagte van poging tot moord wat drie afsonderlike skietvoorvalle betref:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê die regering toon vertroue in die toerismesektor met ‘n voortgesette belegging in die infrastruktuur om ekonomiese groei en werkskepping te versterk. Die departement het 2,54-miljard-rand vir die 2026/2027 boekjaar ontvang. Toerisme het in 2024 meer as 954-duisend regstreekse werksgeleenthede ondersteun en 4,9-persent tot die bruto binnelandse produk bygedra. De Lille sê plaaslike toerisme bly die basis van ‘n sterk toerismesektor. Sy sê 22 projekte uit die openbare en privaatsektor word tans gekeur om te bepaal of beleggings gedoen moet word.
# Drie verdagtes is gister op die N3 by die Baccleuch-wisselaar in Johannesburg in ‘n skietgeveg met die polisie dood. Gauteng se polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê hulle het inligting ontvang oor ʼn groep mans wat in drie voertuie naby winkelsentrums rondry, en vermoedelik met die sogenaamde Rolex-bende verbind word. Sy sê toe die taktiese reaksie-span een van die geïdentifiseerde voertuie probeer voorkeer, het dit weggejaag. Dit het tot ʼn wilde jaagtog en skietery tussen die verdagtes en die polisie gelei:
# Die dodetal nadat twee kragtige aardbewings naby Venezuela se hoofstad, Caracas, voorgekom het, het tot 188 gestyg terwyl meer as een-duisend-500 mense beseer is. Die eerste skudding van 7,2 is sekondes later gevolg deur ʼn sterker een van 7,5 wat dit die land se ergste in meer as ʼn eeu maak. Talle mense word vermis of is steeds onder die puin vasgekeer terwyl reddingswerkers voortgaan om na oorlewendes te soek. Die Verenigde Nasies se woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê hulle help met die reddingspogings:
# Motorsport: Die naweek se Formule Een-Grand Prix in Oostenryk is tot ‘n hittegevaar verklaar, wat beteken dat bestuurders ‘n goedgekeurde verkoelingstelsel mag gebruik. Temperature van meer as 31 grade Celsius word in Spielberg voorspel. Die stelsel laat ‘n verkoelingsvloeistof deur pypies vloei in ‘n hittebestande hemp wat onder die renjaer se pak gedra word. Sommige renjaers verkies egter om dit nie te gebruik nie omdat dit ongemaklik kan wees. Die kajuit van ‘n F1-motor kan temperature van meer as 40 grade Celsius bereik, wat oorverhitting ‘n ernstige gevaar maak, veral aangesien bestuurders verskeie lae beskermende klere dra.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-105-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-996-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….